Die wenners van die kykNET Silwerskermfees 2017 is Saterdagaand by ’n galageleentheid in Kampsbaai aangekondig
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en Retha Furgeson
Dié sewende vier-dag lange filmfees in Kampsbaai het op ’n hoogtepunt afgesluit.
Vaselinetjie is as beste speelfilm aangewys, terwyl Vuil Wasgoed die prys vir beste akteur (Bennie Fourie), beste klankontwerp en oorspronklike musiek (Janno Muller en Benjamin Willem), beste redigering (Quinn Lubbe), beste regisseur (Morné du Toit) en beste produksie-ontwerp (Merishen Wessels) ingepalm het.
Lea Vivier is as beste aktrise aangewys vir haar rol in Wonderlus; Beer Adriaanse as beste manlike byspeler vir sy rol in Wonderlus; June van Merch as beste vroulike byspeler vir haar rol in Raaiselkind; Willie Nel as beste kinematograaf vir Meerkat Maantuig en Johan Cronje vir beste draaiboek vir Wonderlus.
Die pryse vir kort- en kort-kortfilms was:
Kortfilm (12 min) vir beste regisseur, Harold Holscher vir Langsaan; beste draaiboek, Dian Weys vir Versnel; wat ook die beste kortfilm in dié afdeling was.
Kortfilm se beste redigering gaan aan Johan Prinsloo vir Skoon; Carel Nel as beste akteur vir Slaaf; June van Merch as beste aktrise vir Vossie vergas homself.
Kortfilm (24 min) vir beste regisseur, Nico Scheepers vir Die Maan val Bewusteloos; Amy Jephta vir beste draaiboek vir Soldaat, wat ook die beste kortfilm in dié afdeling was.
LEES OOK: Sesde Silwerskermfees in Kampsbaai gehou
Hierdie jaar was daar 21 kortfilms, tussen 12 en 24 minute, op die feesprogram.
“Ons is baie trots op die kortfilmprojek en die talent wat oor die jare sukses kon behaal in die televisie- en filmbedryf,” sê Karen Meiring M-Net Direkteur, kykNET kanale. “Twee van ons vorige kortfilm-wenners is reeds ontwikkel in vollengte films (Vuil Wasgoed, Nommer 37) asook ’n televisiereeks (Buurtwag).”
Volgens Karen is filmmakers soos Christiaan Olwagen, René en Corné van Rooyen, Nosipho Dumisa, Travis Taute, Bennie Fourie en Bouwer Bosch, om maar net ‘n paar te noem, van die vorige wenners wat vandag gerekende rolspelers is.
Om in te skryf moet ’n filmmaker ’n eenbladvoorstel indien, wat anoniem beoordeel word. Daar is vanjaar 258 inskrywings ontvang en vanuit hierdie voorstelle is 31 skrywers genooi om deel te neem aan tekswerkswinkels in Kaapstad en Johannesburg. Filmmakers dien dan hul finale teks in waarna die top 21 gekies word.
Daar is ook 10 mentors wat aan hierdie projek deelneem en dan die filmmakers ondersteun – van teks-ontwikkeling tot na-produksie. Die teksmentors vir 2017 was Beer Adriaanse, Bennie Fourie, Brett. M. Innes and Etienne Fourie terwyl Johan Kruger, Josh Rous, Jozua Malherbe, Luke Rous, Nosipho Dumisa en Travis Taute produksie ondersteuning bied.
Die 2017 kykNET Silwerskerm kortfilms sal in November op die Showmax platform beskikbaar wees.
Die vollengte films Vaselinetjie, Wonderlus, Raaiselkind, Liewe Kersfeesvader, Meerkat Maantuig en Vuil Wasgoed word binne die volgende paar maande in fliekteaters landwyd bekendgestel.