Die beste wyne uit die Stellenbosch wynroetes uitgestal
Maryke Roberts
Die 2016 Stellenbosch Wynfees aangebied deur Pick ‘n Pay, is die afgelope naweek by Coetzenburg Sportgronde gehou. Hierdie geskiedkundige fees was die eerste van sy soort in die land. Die feesterrein het besoekers betower met ‘n egte Stellenbosch leefstyl-ervaring met uitstekende wyne, heerlike versnaperinge, prettige buitelug-aktiwiteite en skitterende musiekkonserte, alles met die pragtige Stellenbosse natuurskoon as agtergrond.
Die fees het saamgeval met die jaarlikse parsseisoen en 87 wynprodusente het stalletjies gehad. Selfs unieke en minder bekende boetiekkelders het Sondag ‘n draai kom maak om hulle juwele aan die publiek bekend te stel. Daar was ook vanjaar vir die eerste keer ‘n unieke Wynbiblioteek waar versamelaars seldsame oesjare kon koop.
Die Tasting Room was ‘n gewilde plek, waar uitgesoekte wynmakers en sjefs kos-en wynkombinasies aangebied het. By die verhoog het Karen Zoid, Kurt Darren, BlackByrd en Ard Matthews van Just Jinger-faam opgetree.
Die mooi vroue van Muratie Wynkelder is Jean-Mari Strauss en Marissa Groenewald.
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.