Die vlagskipreeks word in beperkte hoeveelhede én net in uitsonderlike jare produseer
Deur Maryke ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
’n Reeks beperkte hoeveelheid wyne, wat beloof om raar insigte in van Suid-Afrika se beste terroir in Stellenbosch te gee, is pas deur Stellenbosch Hills by ’n middagete by De Volkskombuis op Stellenbosch vrygestel.
Die portefeulje wat Sense of Place gedoop is, vertoon die uitdrukking-diversiteit waartoe wingerde op hul kruin in staat is. Dit neem trots die plek in as die kelder se vlagskip-versameling en die eerste wyne nou beskikbaar, is ’n gehoute Chenin Blanc 2017, genaamd Kastanjeberg en ’n Kaapse Versnit, Suikerboschrand 2015. Hulle word binnekort aangevul deur ’n MCC (Méthode Cap Classique).
Elke aspek van die reeks, is ’n sprekende voorbeeld van sy doel. Die naam en ontwerp onderskryf die wyn se filosofie, sowel as die inhoud. Sense of Place is ’n top-gehalte reeks, bestem vir die connoisseur wat daarna smag om die individuele wingerd-komponente tot die wynmaker se beskikking, te verstaan.
James Ochse, wynmaker, het aan gaste by die middagete vertel: “Die reeks se verbintenis tot sy herkoms, word op die etiket beklemtoon en huldig die bande tussen wyn en die natuur. Die kunstige embleem verteenwoordig spesies wat op die plaas voorkom en is die breinkind van die Stellenbosch-gebaseerde Haumann Smal Design Studio.
Die middagete was in meer as een opsig histories: De Volkskombuis is in 1902 as werkershuisies deur Sir Herbert Baker vir Cecil John Rhodes ontwerp. In 1968 het Historical Homes of South Africa die geboue restoureer en dit as restaurant uitgehuur, wat in 2010 sy deure gesluit het. Die gebou het vir meer as sewe jaar gesluit gestaan, voor die eienaars vir Slee & Co argitekte op die dorp aangestel het om dit weer tot sy voormalige glorie te herstel en weer as restaurant kan funksioneer. Nou is die hart van tradisionele kookkuns weer terug op sy regmatige plek, met sjef Daniël de Villiers aan hoof van die kombuis.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.