Die nuutste wyne in Stellenbosch Hills se gelyknamige reeks is by ’n spoggerige middagete by Makaron Restaurant by die boetiekhotel, Majeka House, op Stellenbosch vrygestel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die reeks bestaan uit ’n ‘manjifieke sewe’ en sluit vyf wyne van die 2016-oes wat nou gereed is vir vrystelling én die byvoeging van sy top-presterende Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc, in.
Wyne van regoor die portefeulje is gereeld onder die presteerders by Suid-Afrika se gesaghebbendste kompetisies en proe-panele. Die Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc was egter een van die gereelde top-presteerders, wat twee goue medaljes en ’n dubbelgoud vir die 2017-oes ingepalm het.
Die druiwe vir hierdie Sauvignon Blanc – anders as die ander – is uit ’n enkelblok afkomstig waarvan die wyne – tesame met ’n minimale wynmaak-aanslag – baie spesifiek hul unieke terroir weerspieël. Die wingerd floreer in verweerde skalie en graniet, terwyl sy ligging die beste uit die oggendson en die koel seebriesies haal, om uitstekende vrugte te produseer.
Die nuwe wyne is: Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc 2018, Stellenbosch Hills Chenin Blanc 2018, Stellenbosch Hills Bushvine Pinotage 2016, Stellenbosch Hills Cabernet Sauvignon 2016, Stellenbosch Hills Merlot 2016, Stellenbosch Hills Shiraz 2016 en die gewilde gefortifiseerde wyn: Muscat de Hambourg 2016. Die nuutste toevoeging tot die reeks is uit ’n geskiedenis wat na 1707 terugdateer gebore, toe die eerste druiweplase in die omgewing gevestig is, wat nou die tuiste van Stellenbosch Hills Wines is. In sy moderne vorm bestaan die kelder uit ’n netwerk produsente-lede om verskeie wynreekse te maak, waarvan die slagspreuk van sy gelyknamige reeks – Onderskeiding Deur Diversiteit – die oorsprong van sy krag en aanspraak verklap.
Stellenbosch Hills is in die Vlottenburg-distrik geleë en die wyne word met sorg deur die keldermeester, PG Slabbert, wat in 1997 aangesluit het en die wynmaker, James Ochse, wat in 2016 aangestel is, gemaak.