Steenberg Vineyards in Constantia buite Kaapstad, het pas drie nuwe wyne bekend gestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Dié wyne is vernoem na skepe in die Britse Koninklike Vloot wat die Nederlanders in 1795 gedurende die Slag van Muizenberg oorwin het.
By ’n funksie by die landgoed se Bistro 1682, is die wyne aan gaste bekendgestel en kon daar met die keldermeester, JD Pretorius gesels word en ook meer oor die historiese skermutseling by historikus, Chris Taylor, verneem word.
Die Ruby, Stately en Sphynx was deel van die eerste Britse besetting van die Kaap van Goeie Hoop, toe die Koninklike Vloot op 7 Augustus op die Nederlandse vestings in Muizenberg toegesak het. Skermutselinge het ontstaan nadat die Nederlanders teruggetrek het.
Ter herinnering aan hierdie kortstondige tog histories beduidende stryd, staan hul naamgenote vandag trots as deel van Steenberg se reeks wyne. Die drie nuwe wyne word uitgesonder deur hul roosgoud nek-omhulsuls en filigraanafwerking.
LEES OOK: Koukus met wynmakers lewer interessante insigte
“Ons is opgewonde om hierdie nuwe reeks wyne bekend te stel, veral omdat dit ‘n gaping in ons portfolio vul. Hierdie reeks gee ons die kans om wynliefhebbers meer keuse te bied teen ‘n aanloklike prys. Ons het werklik op kwaliteit gefokus en is trots om hierdie drie wyne by ons Steenberg versameling te voeg,” het JD oor ’n viergang maaltyd vertel.
Steenberg Ruby Rosé 2017 is ’n versnit van Syrah (51%) en Cinsault (49%). Dié vrugtige wyn spog reeds met ‘n Dubbel Goud van Rosé Rocks 2017, Suid-Afrika se enigste kompetisie toegewy aan roséwyn. Dit is die perfekte wyn vir lente en somer en alle lekkerleef geleenthede tussendeur.
Steenberg Sphynx Chardonnay 2017 is ’n ligte vatgefermenteerde Chardonnay van uitgesoekte wingerde in Robertson en Bonnievale. Hierdie Chardonnay is ideaal om nou te geniet en sal ook goed verouder vir ’n verdere twee tot vyf jaar. Geniet dit saam met skulpvis, romerige sop en geroosterde vis.
Steenberg Stately 2015 is ’n volronde versnit van Cabernet Sauvignon (63%) en Shiraz (37%). Geniet dié rooiwyn op sy eie of saam met ryk bredies en lekker geroosterde vleisdisse.
Die Ruby Rosé 2017 is teen R86, die Sphynx Chardonnay 2017 teen R135 en die Stately Red 2015 teen R135 per bottel by die Steenberg kelder beskikbaar.