Leeu House, ‘n eksklusiewe vyfster 12-suite boetiekhotel in die hartjie van die pragtige Franschhoek, verwelkom gaste vir ’n wynland-ervaring, nadat die hotel sy deure op 1 Desember oopgeswaai het
DEUR: Maryke Roberts
FOTO’S: Clifford Roberts
Leeu House is deel van Analjit Singh en sy span se Leeu Collection portefeulje. In Sanskrit beteken Singh Leeu. Hierdie sluit in ‘n indrukwekkende kunsversameling van werke van Suid-Afrika se mees gevierde kunstenaars; argitektuur en ontwerp met ‘n Suid-Afrikaanse én internasionale aanslag; onberispelike en gedetailleerde tuine wat respek vir die natuur weerspieël; ongeëwenaarde diens met aandag aan die fynste besonderhede; asemrowende uitsigte van die streek se berge en wingerde; en ‘n wêreldklas wynportefeulje.
“Kwaliteit is die kenmerk van alles wat ons by Leeu Collection doen,” sê Hector de Galard, Leeu Collection Besturende Direkteur. “Dít definieer ons.”
Die projek het begin as ‘n persoonlike reis vir Leeu Estate-eienaar, Analjit Singh (aka BAS), ‘n internasionale belegger van Indiese oorsprong. Hy is aanvanklik bekoor deur die Wes-Kaap se uitsonderlike natuurskoon en lewendige energie gedurende ‘n reis na Suid-Afrika tydens die 2010 FIFA Sokker Wêreldbeker. Kort hierna het sy maatskappy Klein Dassenberg in Franschhoek bekom, wat aanvanklik as familietuiste bestem was. Maar toe reeds is die saadjie geplant om hierdie tuiste in ‘nwêreldklas gasvryheid en wynmaak bestemming te omskep.
Hierdie inisiatief is verwelkom deur die Wes-Kaapse Minister van Ekonomiese Geleenthede, Alan Winde. “Toerisme is een van die grootste voorsieners van werkgeleenthede in die Wes-Kaap,” sê hy. “Wyntoerisme in besonder genereer R6 biljoen nasionaal. Van alle toeriste wat na die Wes-Kaap stroom, besoek 43% die Kaapse wynlande. Hierdie privaatsektor-belegging in dié gewilde streek is ‘n bekragtiging van die Leeu Collection se vertroue in die Wes-Kaap as besigheidsbestemming.
Twee nuwe ondernemings, bykomend tot Leeu Collection, sal in 2016 hul deure oopswaai. ‘n Eksotiese, nuwe kulinêre fokus regoor Leeu House, genaamd Marigold, Franschhoek se eerste Indiese restaurant. Reg langs Leeu House maak Tuk Tuk, ‘nboetiekbierbrouery in samewerking met die gevierde Cape Brewing Company-span, hul deure oop waar uitnemende bier en Meksikaanse disse voorgesit sal word.
Een van die kamers in ie boetiekhotel
Matthew Smith, algemene bestuurder van Leeu Estates, Beverly Boswell, binnenshuise versierder en Oliver Cattermole, uitvoerende sjef van Leeu Estates en Leeu House
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.