Loer hier na ‘n paar lekker doendinge saam met jou kind. Luisa van der Linde het hope speel-idees vir die hele gesin versamel.
Luisa van der Linde
Aktiwiteite waarmee Pappa en Mamma kan help
Mareta Cornelissen, arbeidsterapeut gee die volgende lekker doendinge vir ouers wat speel-speel hul kleingoed wil aanmoedig om meer aktief te wees:
• Stap saam met jou kind om die blok.
• Neem die honde om te gaan oefen.
• Ry saam fiets.
• Leer jou kind touspring.
• Laat jou kind padda spring, hasie spring, soos ‘n kangaroe hop, soos ‘n skilpad loop of badkamer toe marsjeer as hy moet gaan bad.
• Loop saam met hom kruiwa.
• Gooi saam met hom bal. Verskillende groottes balle maak dit meer pret.
• Speel buite saam krieket.
• Spring saam trampolien. Laat boeta op een been spring en ‘n bal gooi terwyl hy spring.
• Swaai jou kind in die rondte terwyl hy nog klein is.
• Maak saam met hom bollemakiesies en rol.
• Kruip saam met jou kind soos ‘n trein, ‘n trok of ‘n dinosourus.
• Hou ‘n kussinggeveg.
• Trek teen mekaar tou.
• Laat jou kind in die tuin help hark, plant, kruiwa stoot of saam met jou snoei.
• Laat jou kind toe om in parkies te klim en te klouter.
• Speel saam met hom draaibal.