Jy kan help
Bonné de Bod, aanbieder en vervaardiger gee die volgende raad: “Ek dink waterbesparing is ‘n lewenswyse. Ons ken almal die uitdrukking dat ‘n mens nie altyd besef wat jy het tot jy dit verloor het nie. In hierdie geval is dit ook só: Die beste tyd om water te bespaar, is vandag, wanneer daar nog water is om te bespaar. Dit is die klein goedjies wat ek en jy kan doen wat regtig tel. En terwyl jy saamwerk om water te bespaar, kan jy terselftertyd tot 10% op jou jaarlikse waterrekening bespaar. Dit is dus ‘n wen-wen-situasie!
Bonné se wenke:
· As jy bad, gebruik gemiddeld 160 liter water terwyl ‘n stort van vyf minute ongeveer 60 liter water gebruik – 100 liter minder! Probeer dus liewer stort. As jy moet bad, tap min water in of deel jou bad en om dan nie so skuldig te voel nie, herwin jou badwater en gebruik dit in die tuin!
· Hoeveel keer sit jy die skottelgoedwasser aan wanneer hy halfvol is? Pak dit vol voor jy dit gebruik. Dieselfde geld vir jou wasmasjien.
· Installeer ‘n waterbesparingstoestel of sit ‘n halwe plastiekbottel in die toilet se spoeltenk. Só kan jy tot 7 300 liter water per jaar bespaar. ‘n Lekplek in jou toilet kan tot 30 liter water per uur mors. As jy wil toets of jou toilet lek, kan jy ‘n paar druppels voedselkleursel in die watertenk gooi. As die kleur in die toiletbak sypel, is daar ‘n lekplek wat so gou as moontlik herstel moet word.
· Draai krane behoorlik toe. Een druppel wat per sekonde lek, mors tot 30 liter water per uur, wat ‘n massiewe 10 000 liter per jaar se watervermorsing kan beteken!
· As jy jou tuin minder gereeld, maar dieper, met ander woorde vir ‘n langer tydperk natlei, moedig jy in werklikheid ‘n dieper wortelstelsel aan wat weer sterker plante tot gevolg het.
· Vervang kraanwassers gereeld en sit lugspuite in krane om die vloei van water te beperk en te versprei.
· Draai die kraan toe wanneer jy tande borsel (bespaar tot 20 liter water) of skeer (bespaar tot 45 liter water).