Die gegeurde whiskey-kategorie het in 2016 in die VSA met 40% gegroei. Dit bly een van die snelgroeiendste marksegmente
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Dit was tyd om jou ingeleefde denim en opgevoude Amerikaanse vlag uit te skud met die bekendstelling van die nuwe Southern Moonshine-reeks van onverouderde Amerikaanse-styl moonshines, wat onlangs by die Dust & Dynamite Bar, ’n ware wilde weste saloon in Kaapstad, bekend gestel is.
Die moonshines word hier in Suid-Afrika handgemaak en die Silver Creek Craft Distillery het nog meer rede om breëbors te wees. Nie alleen is dit die eerste moonshine wat plaaslik vervaardig word nie, die distilleerdery het ook vyf medaljes by die Michelangelo International Wine & Spirits-toekennings 2017 verower.
“Die gegeurde whiskey-kategorie het in 2016 in die VSA met 40% gegroei. Dit bly een van die snelgroeiendste marksegmente en soos die gesegde lui: wanneer Amerika nies, vang die res van die wêreld verkoue. Net soos met craft bier en jenewer, glo ons dat moonshine die volgende groot gier in Suid-Afrika gaan wees!” het Silver Creek Craft Distillery se stigter en hoof distilleerder, Mark Taverner, aan gaste vertel.
Hy het vertel dat hulle besig is om sy handgemaakte reeks outentieke moonshines regoor die land af te lewer.
Die unieke Southern Moonshine-reeks bestaan uit die vlagskip Clear Shine, ’n spiritus wat verdun word tot 50% alkohol per volume (APV) – 100% proef in Amerikaanse terme. Saam met hierdie craft-nuweling, kom die Charred Shine (ook verdun na 50% APV). Dis soortgelyk aan ’n goeie bourbon en gemaak van Clear Shine en met eikehoutvat-ekstrak gegeur.
Silver Creek Craft Distillery produseer ook vier Southern Moonshine Flavoured ‘Shines (24% APV), wat gegeur word met Amerikaanse geure wat eksklusief deur ’n Amerikaanse distilleerdery in die staat, Louisville, Kentucky, gemaak word. Hierdie viertal sluit in Apple Pie Moonshine, wat soos ouma se poeding in ’n bottel smaak; Bon Fire Moonshine, met ’n knypie warm kaneel; Salted Caramel Moonshine en Chocolate Moonshine – ’n mondvol donkersjokolade en swart koffie.
LEES OOK: American Express ervaring
Mark het voorts verduidelik: “Moonshine word in die tradisionele manier gestook en het sy naam te danke aan Amerika se Prohibisie-era, toe vurig-onafhanklike distilleerders net hul kuns onder die veiligheid van die nag, met die maan as hul hulpmiddel, kon stook.”
Dit het ’n rowwe en gevaarlike drankie tot gevolg gehad en die reputasie wat daarmee assosieer word, is ewe berug; dit was die tyd van Al Capone en fluister-kroeë.
“Deesdae is dit nie onwettig mits dit deur ’n gelisensieërde distilleerdery wat aan regeringsregulasies voldoen, gestook word nie. Vandag se moonshine behou egter daardie duiwelsdrek misterie van die verlede, maar dis heeltemal veilig om te drink en ja, selfs heerlik!”
Die Silver Creek Craft Distillery sit in ’n ou myngebou in Randfontein, Gauteng en alles word per hand gedoen – van die fynmaal en gisting, tot distillering en bottelering. Die proses bied ruimte vir ekstra spesiale aandag en dis waarom elke bottel deur die distilleerder geteken word.
Silver Creek Southern Moonshine is beskikbaar in ’n handgemaakte moonshine bottel met ’n oulike vingergaatjie wat die gemaklike gees van die Amerikaanse suide weerspieël.
Gaste kon dit op verskeie maniere geniet: die Clear Shine en Charred Shine oor ys of as die basis-spiritus van ’n lekker langdrankie. Die Flavoured ‘Shines sal enige skemerkelkie ’n hupstoot gee of drink hulle skoon as ’n knertsie of oor fyn ys met jou gunsteling mengeldrankie.
Southern Moonshine is landswyd by uitgesoekte kroeë, restaurante en handelaars verkrygbaar. Die Clear en Charred Shines kos ongeveer R370 per 750ml bottel en die gegeurde moonshines R260.