Die Sommeliers Selection 2017 kompetisie se wenners is pas op Stellenbosch aangewys
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
In ’n mededingende wêreld waar wynbeoordelaars en wynkenners die septer swaai, is die The Sommeliers Selection-kompetisie ’n vars briesie, want al die wyne word net deur sommeliers geproe.
Die kompetisie is in 2014 begin en bied ’n geleentheid aan restaurante wat nie sommeliers het of kan bekostig nie, om ook ingeligte besluite oor wynaankope te maak en vergemaklik die opstel van wynlyste.
Boonop is die sommeliers die mense wat dag na dag met wyndrinkers in restaurante en kroeë te make kry en hul wynvoorkeure- en afkeure gou leer ken.
Die kompetisie word opgedeel in 19 prettige kategorieë en dek van witwyne tot MCC en boetiekbiere. Alles word blind geproe. Vanjaar se kompetisievoorsitter was Joakim Blackadder, ’n raadslid van die Suid-Afrikaanse Sommeliers Assosiasie (SASA). Die res van die paneel was Pearl Oliver, Joseph Dafana, Billet Magara, Barry Scholfield (paneelvoorsitter), Esmé Groenewald en Spencer Fondaumiere (paneelvoorsitter). Twee in-opleiding-beoordelaars was Melusi Magodhi en Minnie Mthombeni.
By die geleentheid het Joakim aan deelnemers en gaste gesê varsheid, uitdrukking en elegansie vir die paneel die uitstaande eienskappe was onder vanjaar se deelnemers.
Die handel en publieke proeë word op Donderdag 28 September in Johannesburg en Woensdag 5 Oktober in Kaapstad gehou. Meer besonderhede by www.thesommeliersselection.co.za
Vir ’n volledige lys van die wenners, besoek www.thesommeliersselection.co.za/awards.html