Die Black Cellar Club (BLACC) het saam met die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting ’n toer van die gewilde R62-roete onderneem om van die hooflede van BLACC aan brandewyn-tuistes bekend te stel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
BLACC is in 2016 deur Vula Afrika gestig en is ’n kommunikasie- en netwerkplatform vir swart sommeliers en wyn-kelners regoor Afrika.
BLACC het tans takke in die Wes-Kaap, Gauteng en Kwa-Zulu Natal en het meer as 1000 lede wat in die gasvryheidsbedryf regoor die land werk.
Ander lede van BLACC en gaste is Maandag by The Stack ledeklub in Kaapstad onthaal om die video van dié brandewynreis te deel; meer oor brandewyn te leer én twee nuwe brandewyn-mengeldrankies te ontdek.
Gaste is met die twee mengeldrankies wat deur BLACC’ se senior mengeldrankie-spesialis, Archie Mapugua, van die One & Only Hotel in Kaapstad ontwerp is, verwelkom. Archie het een drankie met KWV 10 jaar oud, sitroengras, peer, basilie en gemmerbier gemaak en die tweede drankie met Van Ryn 10 jaar oud met Earl Grey bloublom, Iona Sauvignon blanc en Boplaas potketel brandewyn.
Hy het aan gaste vertel dat brandewyn ’n opwindende bestanddeel in mengeldrankies is en boonop 100% Suid-Afrikaans is.
Hy was verheug om die brandewyntuistes tydens die bustoer te besoek, want nou kan hy aan gaste van regoor die wêreld aan wie hy mengeldrankies voorsit, met oorgawe vertel waar dié bekroonde brandewyne gemaak word.
Aubrey Ngcungama, een van die toer se fasiliteerders en lid van BLACC, het aan gaste die video, wat deur Eden Weiss saamgestel is, voorgestel. Die “brandewynbus” het by Van Ryn’s buite Stellenbosch afgeskop en het oor drie dae ook besoek afgelê by Kingna Distillery buite Montagu, Boplaas Familiewingerde buite Calitzdorp, Grundheim buite Oudtshoorn en Oude Molen buite Grabouw.
Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting direkteur, Christelle Reade-Jahn, het vertel dat Suid-Afrikaanse brandewyn die beste in die wêreld is en gaste nie haar woord daarvoor hoef te neem nie, maar internasionale beoordelaars s’n.
’n Suid-Afrikaanse brandewyn het die titel as beste brandewyn in die wêreld meer as 15 keer in die afgelope 20 jaar gewen. “Dit sluit potketel brandewyne deur ons boetiek-keldertjies sowel as groter produsente soos Oude Molen, Distell en KWV in.
“In 2017 het die KWV 15 jaar oud hierdie gesogte titel ingepalm en só stof geskop in meer as 2300 inskrywings van regoor die wêreld. Dis soos om ’n goue medalje by die Olimpiese Spele te wen.”
Suid-Afrikaanse brandewyn het ’n lang en ryk geskiedenis. Teen die 1600’s het Nederlanders begin om brandewyn aan boord hul skepe te neem. Wyn uit daardie tyd kon nie die lang seereise hanteer nie en distillering van die wyn het hierdie probleem opgelos. Die hoër alkohol het as natuurlike preserveermiddel gedien en oksidasie verhoed.
’n Paar vate brandewyn het ongetwyfeld in 1652 saam met Jan van Riebeeck by Tafelbaai-hawe ingevaar. Brandewyn is op 19 Mei 1672 vir die eerste keer in Suid-Afrika gedistilleer.
Die kok van die skip, de Pijl, kon 130 liter brandewyn van 1000 liter Kaapse wyn distilleer, terwyl dié skip in Tafelbaai geanker gelê het.
Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting is in 1984 deur die bedryf gestig om die herkoms en integriteit van Suid-Afrikaanse brandewyn te beskerm.