Willie Burger kyk na twéé Nobelpryswenners vir 2019
Vanjaar is sommer twee Nobelpryswenners vir letterkunde aangekondig. Die goeie nuus is myns insiens dat dit nie twee skrywers uit die Engelssprekende wêreld is nie, want dit wil dikwels voorkom asof skrywers in Engels ’n binnebaan het bo skrywers in tale wat nie wyd oor die wêreld gepraat word nie, soos Pools en Duits.
Twee pryswenners is aangekondig nadat geen toekenning in 2018 gemaak is nie. Ná die openbaarmaking van ’n skandaal oor die manier waarop die Sweedse Akademie die wenners vir die grootste literêre prys in die wêreld kies, is besluit om die proses te hersien en om die prys van 2018 na hierdie jaar te laat oorstaan. Gevolglik is Olga Tokarczuk as die wenner vir 2018 en Peter Handke as die wenner vir 2019 aangekondig. Die algemene verwagting was dat twee vroue die prys sou kry, in die lig daarvan dat daar tot dusver nog slegs 15 vroueskrywers teenoor 114 mans die Nobelprys ontvang het. Veral ná die #metoo-veldtog sou só ’n gebaar die bewustheid van diskriminasie teen vroue ondersteun, het baie mense redeneer.
Die verwagting was ook dat skrywers uit Afrika of Asië voorkeur sou geniet as die Sweedse Akademie meer “inklusief” sou wou wees. Nietemin het die toekennings van oor die R13 miljoen elk aan twee Europeërs gegaan. Die Sweedse Akademie het nie net die verwagtings van groter diversiteit in hul toekenning in die wind geslaan nie, maar hulle het ook nie polities “veilige” keuses gemaak nie. Albei die skrywers is om verskeie redes omstrede. Die keuse van veral die Oostenryker, Peter Handke, het as verrassing gekom omdat hy in sy lang loopbaan nooit polities korrek was nie. Beswaardes het dit veral teen sy politieke uitsprake en dat hy byvoorbeeld ’n toespraak by die begrafnis van Slobodan Milosevic gelewer het. (Milosevic was die president van Serwië tydens die Bosniese oorlog en is van oorlogsmisdade en volksmoord beskuldig – hoewel hy nooit skuldig bevind is nie.)
Handke het ook al in die verlede kritiek op die Nobelprys gehad en aangevoer dat die prys liewer afgeskaf moet word omdat dit tot ’n “valse kanonisering” lei van wenners wat nie onthoubare skrywers is nie. Olga Tokarczuk, die Poolse wenner van die 2018-prys, is eweneens omstrede in haar eie land. Sy word as ’n feminis met dreadlocks beskryf, en haar werk word veral nie deur die regerende regse Poolse politieke party waardeer nie. Tokarczuk is 57 jaar oud en het al verskeie romans in Pools geskryf, maar haar werk is eers in die afgelope paar jaar in Engels vertaal. Verlede jaar is die internasionale Man Bookerprys aan die Engelse vertaling van haar roman Flights toegeken. Hierdie jaar is sy al weer op die kortlys vir dié gesogte prys met die roman Drive your Plow Over the Bones of the Dead. Laasgenoemde roman het reeds tien jaar gelede in Pools verskyn, maar het pas eers in Engels verskyn.
Die Engelse vertalings van haar werk het daartoe gelei dat sy skielik baie wyd buite haar landsgrense gelees word. Flights is juis ’n roman oor grensoorskryding – oor mense wat reise onderneem. Dit is nie ’n maklike boek om te lees nie, omdat dit uit ’n verskeidenheid verhale bestaan wat met die eerste oogopslag nie veel met mekaar te doen het nie, maar dit is een van daardie boeke wat nog lank ná die tyd by mens bly spook. Die rede daarvoor is dat sy so ’n goeie verteller is. Elk van die verskillende verhale, waarvan sommige oor historiese karakters en ander oor fiktiewe karakters gaan, word met soveel helderheid en detail vertel dat mens hulle nie kan vergeet nie.
Tokarczuk het in 1989 met ’n digbundel gedebuteer en haar eerste roman het reeds in 1993 verskyn. Drive your Plow over the Bones of the Dead verskil heeltemal van Flights. Dit is veel makliker om te lees omdat dit eerder ’n soort donker speurriller is. ’n Heel eksentrieke ouer vrou ondersoek die moord op mense en diere in ’n afgeleë gemeenskap. Die patriargale magsmisbruik word blootgelê en daarom is Tokarczuk op grond van dié roman ’n “feministiese skrywer” genoem. Die 76-jarige Peter Handke het met ’n uitdagende drama, Publikumsbeschimpfung, in die 1960’s gedebuteer. Die drama was ’n ernstige aanklag teen die publiek en bestaan uit beledigings wat na die gehoor uitgeskree word.
Hy het deur sy hele loopbaan aangehou om sterk politieke standpunte in te neem en nooit teruggedeins om kritiek uit te spreek en te affronteer nie. Hy het ouer Duitse skrywers daarvan beskuldig dat hulle bloot mooi verhale vertel en sodoende nie die taak van letterkunde vervul nie. Anders as Tokarczuk sirkuleer sy werk al dekades lank ook buite die Duitse wêreld. Sy drama uit 1967, Kaspar oor Kaspar Hauser, ’n man wat sonder taal grootgeword het en dan soos ’n onskuldige in die samelewing beland, maar deur die samelewing verwoes word, was besonder invloedryk (ook op PG du Plessis se drama, Plaston, DNS-kind). Die twee Nobelpryskeuses mag omstrede wees omdat hulle nie aan die verwagtings van diversiteit voldoen nie, maar daar is geen twyfel dat albei se werk van uitsonderlike gehalte is wat bekroning verdien nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.