Willie Burger kyk na die tameletjie van literêre pryse
Margaret Atwood se roman The Handmaid’s Tale het in 1986 verskyn. Dit moes volgens baie mense daardie jaar die Bookerprys gekry het, maar dit het nie. Intussen het die TV-reeks wat op dié roman gegrond is, onlangs groot kykertalle gelok. Dit is waarskynlik juis daarom dat so baie mense na die verskyning van Atwood se opvolg op The Handmaid’s Tale uitgesien het.
Nuuskierige lesers het The Testaments vooraf bestel en dit het van die rakke af gevlieg. Talle TV-kykers wat nie destyds The Handmaid’s Tale gelees het nie, maar intussen die TV-reeks gevolg het, wou graag oplossings vir die raaisels van Gilead vind. Die TV-kykers en die lesers wat op soek was na antwoorde en oplossings vir alles wat mens aan die einde van The Handmaid’s Tale nog ongemaklik en half in die war gehad het, is nie teleurgestel nie. Atwood gee in The Testaments antwoorde en verduidelikings. Volgens sommige kritici verduidelik sy heeltemal te veel, en daarom verloor The Testaments volgens hulle die trefkrag en die onthutsende effek wat The Handmaid’s Tale gehad het.
Die bekende Franse teoretikus Roland Barthes het tussen “leesmatige” en “skryfmatige” tekste onderskei. In leesmatige tekste word die storiewêreld en die karakters se optrede uiteindelik op ’n bevredigende manier verklaar en alles word logies en samehangend opgelos. Skryfmatige tekste, hierteenoor, verg veel harder werk van lesers en die werke is selfbewus gemoeid met taal en met die vorm van die roman, sodat die leser nie maar net kan terugsit en lees nie, maar as ’t ware moet saamskryf. Die inspanning wat van die leser geverg word, lei nie slegs tot meer interpretasiemoontlikhede nie, maar omdat die leser meer van haar/sy eie kennis, wêreldbeskouing en idees moet bydra, is die kanse dat hierdie eie beskouings en idees uitgedaag word, groter.
Oor die algemeen geniet skryfmatige tekste voorkeur wanneer literêre pryse toegeken word. Om hierdie rede was daar ook heelwat reaksie téén die onlangse bekroning van The Testaments. Sommige meen dat dié roman niks vernuwends met die roman as vorm gedoen het of genoeg uitdagings aan die lesers stel nie – dat dit te veel van die boeiende onsekerhede wat The Handmaid’s Tale so ’n fassinerende roman gemaak het, verklaar en oplos. Die besluit om die prys wel aan The Testaments toe te ken, so word wyd bespiegel, berus op twee motiverings: aan die een kant is dit ’n kniebuiging na meer toeganklike en populêre fiksie, meer leesmatige, eerder as skryfmatige tekste.
Hierdie verskuiwing mag beïnvloed wees deur die kritiek op verlede jaar se wenner, die uitstekende The Milkman deur Anna Burns, wat deur baie lesers as moeilik en ontoeganklik ervaar is. Die bekroning hierdie jaar van ’n meer leesmatige teks is moontlik beïnvloed deur die besluit van die hoofborg van die prys om ná verlede jaar te onttrek. Deur meer gewilde boeke te bekroon, kan borge dalk makliker bekom word? Aan die ander kant word daar ook bespiegel dat die beoordelaars deur hierdie toekenning eintlik wou vergoed vir die feit dat Atwood se The Handmaid’s Tale in 1986 oor die hoof gesien is.
’n Ander, selfs sterker verwyt, word ook teen die beoordelaars van die Bookerprys gerig. Die prys word naamlik (teen die beleid van die Bookerprys in!) tussen Atwood en Bernadine Evaristo vir haar roman, Girl, Woman, Other gedeel. In die bietjie meer as ’n halfeeu wat die Bookerprys al bestaan, het ongeveer 300 boeke in totaal op die kortlyste beland. Volgens berekenings is slegs vier van hierdie 300 boeke deur swart vroue geskryf. Daarom is die toekenning van die prys hierdie jaar aan ’n swart vroueskrywer merkwaardig. Wat egter die wenkbroue laat lig, is dat sy die prys met Atwood deel – spesifiek in die lig van die besware teen The Testaments.
Vir sommige lesers is dit ’n teken dat die beoordelaars bang is hulle word van “regstellende aksie” beskuldig as hulle ’n swart vrou se boek sou bekroon. Evaristo se Girl, Woman, Other word as ’n besonder innoverende roman beskryf – nader aan die skryfmatige soort literatuur wat tradisioneel bekroon word. Niemand bevraagteken die meriete van Girl, Woman, Other nie. Die verhale van 12 vroue en hul worsteling met aspekte van geslag, ras, seksualiteit en klas in ons eietydse samelewing word vertel. Benewens die relevante temas vir ons tyd, is die roman ook innoverend ten opsigte van vertelwyse en verskeie kritici loof die taalgebruik in die roman.
Dit lyk of die pryskomitee ’n dilemma probeer vermy het: Aan die een kant was hulle onder druk om voorkeur aan ’n leesmatige, gewilde teks te gee (dalk ter wille van die borge, dalk omdat hulle Atwood wou beloon nadat The Handmaid’s Tale oor die hoof gesien is). Aan die ander kant kon hulle ook nie bekostig om ’n boek van onbetwiste pryswennergehalte deur ’n swart vrou onbekroon te laat nie, juis nie in ons tyd waarin die bewustheid van diskriminasie in ons samelewing oral beklemtoon word nie. Hoe dit ook al sy, dilemmas by prystoekennings herinner ons daaraan dat daar nie regtig iets soos tydlose, politiekvrye, “suiwer literêre” waardeoordele bestaan nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.