Dié siekte het ’n geweldige uitwerking op die lyer sowel as op die mense om hom of haar
CHRISTA SWANEPOEL
Marthé Viljoen, programbestuurder van die Suid- Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid (SAFMH), het meer inligting rakende die siekte verskaf, ’n lyer vertel self hoe dit is om skisofrenie te hê en ’n vrou wat in ’n huis grootgeword het met ’n pa wat met skisofrenie gediagnoseer is, deel haar ervaring met ons.
’n Lyer se storie
“Ek is ’n paranoïede skisofreen en ’n gerehabiliteerde dwelmgebruiker. Ek hoop om deur my storie ander lyers te help,” sê James*.
“Op skool het my ma my in alles ondersteun wat ek gedoen het, tot dwelms my lewe oorgeneem het. Ek was 15 jaar aan heroïen verslaaf en het soms maande lank by ’n dwelmhandelaar gebly. In sulke tye het my ma lykshuise besoek om te kyk of ek nie dalk daar beland het nie. Vandag is ek steeds hartseer oor die pyn wat ek haar besorg het.
“Ek wil ander mense waarsku om weg te bly van dwelms. Ek het 15 jaar van my lewe verloor wat ek nooit weer kan terugkry nie. Ek is nou al jare skoon en woon steeds Narkotika Anoniem (NA)-byeenkomste by.
“Ek wil nie verskonings maak nie, maar die dwelms het vir my gemoedskommelings gehelp. Ek dink ek was aanvanklik bipolêr. As ek op was, het ek gevoel ek kan berge versit, maar as ek af was, het ek verlore en depressief gevoel. Ek het ook hallusinasies begin ervaar.
“Ek was in matriek toe ek ’n totale psigotiese episode beleef het. Die skoolsielkundige het my na ’n psigiater gestuur wat paranoïede skisofrenie gediagnoseer het. Hy het medikasie voorgeskryf wat die aakligheid van die geestesiekte weggevat het. Ek was depressief, maar dit was beter as die gevoel dat ek teen die wêreld wou uitvaar.
“Ná matriek is ek universiteit toe. Die medikasie het die psigose gestop, maar toe doen ek die slegste ding wat ’n skisofrenielyer kan doen, en dis om dagga te gebruik. My punte het drasties agteruitgegaan tot ek my ma daarvan gesê het en sy gereël het dat ek ’n 28-dae-program by Sanra (Suid- Afrikaanse Raad vir Alkohol- en Dwelmafhanklikes) deurloop.
“Ek het my studies voortgesit, maar toe trek ek en my ma. ’n Dwelmhandelaar ’n entjie van ons af het vir my heroïen gegee. Ek was nie sterk genoeg om dit te weier nie en het weer begin gebruik. Dit het met my medikasie ingemeng en ek het weer psigoties geraak. Dit het buite beheer geraak. Ek het aaklige SMS’e vir ’n medestudent gestuur en my ma emosioneel en finansieel misbruik tot so ’n mate dat sy ’n interdik teen my gekry het, wat ek verbreek het. Die polisie het my opgelaai. Ek was vier maande verhoorafwagtend in die tronk en was totaal psigoties en paranoïes. Ek het gehallusineer en as ek my oë toegemaak het, het ek slange, spinnekoppe en bose geeste gesien. Dit was aaklig, maar ook die keerpunt.
“My ma het met die verpleegster aan diens gereël om my medisyne elke dag vir my te gee en omdat ek nie geld vir dwelms gehad het nie, was ek stabiel toe ek uit die tronk kom.
“Ek mag vir drie jaar nie teruggegaan het universiteit toe nie, was drie jaar in huisarres en moes twee jaar gemeenskapsdiens by ’n tehuis vir kwadrupleë doen. Danksy Sanra en SAFMH en my ma se ondersteuning het ek weer op my voete gekom en het uiteindelik my graad op 34 behaal.
“Met die regte medikasie en ondersteuning kan jy ’n normale lewe lei en jou doelwitte bereik.”
‘Dis hoe ek dit onthou’
“Ek onthou die vrees; altyd die vrees. Vrees as ek in die middae huis toe geloop het, vrees as ek die klank van sy voetstappe gehoor het en vrees as die stemme in ons huis net ’n aks hoër verhef is,” vertel Gerda* (38).
“My pa is skisofrenies en bipolêr. ’n Superslim man wat die een oomblik Nietzsche en Sartre kon aanhaal en die volgende oomblik met ’n sub B-som sou worstel. Vandag besef ek natuurlik dit is ’n siektetoestand, maar as kind het ek net gehoop hy verdwyn uit ons lewe. Daar was goeie tye, die tye wat hy sy medikasie getrou geneem het, maar ongelukkig het die slegte tye dit oorskadu. Ek onthou goed hoe hy my een keer so geslaan het dat ek net in ’n hopie bly lê het.
My broer het dit nog erger as ek ervaar en ek onthou hoe ek en hy in die boom gesit het terwyl my pa amok gemaak het. My ma het ’n rillerlewe saam met hom gehad en die polisie en maatskaplike werkers het later ons adres goed geken. My ouers is uiteindelik geskei toe ek so tien of elf was en ons het vandag bitter min kontak met my pa. Dit sou anders gewees het as hy al die behandelings aanvaar het.”
Wat is skisofrenie?
Skisofrenie is ’n ernstige vorm van ’n geestesiekte wat ongeveer sewe mense per duisend van volwassenes, hoofsaaklik in die ouderdomsgroep van 15 tot 35 jaar, raak. Dis ’n ernstige en belemmerende siekte wat die brein beïnvloed en ’n geweldige emosionele lyding en finansiële las tot gevolg het.
SIMPTOME
Waanbeelde – vals waarnemings omdat die lyer nie die waarheid van onwerklike ervarings kan skei nie.
Hallusinasies – oudio-hallusinasies, waar die lyer stemme kan hoor wat ander mense nie hoor nie, is die algemeenste.
Onsamehangende spraak – vae gedagtes, lukrake assosiasie van idees, skep van nuwe woorde.
Wanordelike gedrag – trek onvanpas vir ’n geleentheid aan, skeep persoonlike higiëne af, onttrek van mense, en katatoniese gedrag.
Negatiewe reaksie – gebrek aan of agteruitgang van emosionele respons, spraak, motivering en konsentrasie.
WAT VEROORSAAK SKISOFRENIE?
Die presiese oorsaak is onbekend. Dis heelwaarskynlik die gevolg van ’n komplekse reaksie tussen genetiese, bio-chemiese, ontwikkelings- en omgewingsfaktore. Sekere breinabnormaliteite kan in die verloop van die siekte teenwoordig wees.
BEHANDELING
Daar is geen geneesmiddel vir skisofrenie nie, maar dit is uiters behandelbaar en beheerbaar. As iemand wat jy ken, simptome van skisofrenie toon, moet jy hom of haar aanmoedig om ’n psigiater te spreek wat in geestesiektes spesialiseer. Na raming is daar soveel soos 40% of 50% van mense met skisofrenie wat nie besef hulle ly aan ’n geestesiekte nie. Medikasie is hoogs doeltreffend, maar ongelukkig is dit moeilik om skisofrenielyers sover te kry om hul medikasie te gebruik. Daar is verskeie redes waarom lyers hul medikasie stop, insluitend die newe-effekte, verwarrende denke (ook dat hulle nie glo hulle is siek nie) en die aanname dat die medikasie nie meer werk nie.
Die primêre medikasie vir skisofrenie word anti-psigotiese medikasie genoem. Dit help om die chemiese wanbalans in die breinselle te herstel. Lyers wat akute simptome van skisofrenie beleef, mag intensiewe behandeling nodig hê, wat hospitalisasie behels. Dit is gewoonlik wanneer die lyer erge waanbeelde of hallusinasies beleef, selfdoodgedagtes het, nie vir hom- of haarself kan sorg nie of erge probleme met drank of dwelms het.
Lyers wat gestruktureerde psigososiale rehabilitasieprogramme bywoon en hul medikasie soos voorgeskryf gebruik, beheer hul siekte die beste. Individuele en groepsterapie kan ook die lyer en die gesin help om die siekte beter te verstaan.
TIPES SKISOFRENIE
Daar is vier tipes skisofrenie wat algemeen erken word en deur die simptome bepaal word.
Paranoïede skisofrenie – die lyer voel uiters suspisieus, asof hy vervolg word, of grandioos, of ’n kombinasie van hierdie emosies.
Gedisorganiseerde skisofrenie – die lyer maak nie sin wat sy spraak en denke betref nie, maar hy sien nie waanbeelde nie.
Katatoniese skisofrenie – die lyer is teruggetrek in homself, stil en negatief en neem vreemde liggaamsposisies in.
Residuele skisofrenie – die lyer beleef nie meer waanbeelde of hallusinasies nie, maar het geen motivering en belang in die lewe nie
ALGEMENE MITES EN FEITE
MITE Mense met skisofrenie het ’n gesplete persoonlikheid
Dit is die algemeenste mite, maar glad nie waar nie. Hoewel lyers soms waanbeelde en hallusinasies beleef, het hulle nie twee aparte persoonlikhede nie.
MITE Skisofrenielyers se fisieke gesondheid is soos enige ander mens s’n
Skisofrenie het ’n geweldige uitwerking op lyers se fisieke gesondheid. Die fisieke effek van ’n geestesiekte en die newe-effekte van anti-psigotiese medikasie tesame met lewenstylfaktore het tot gevolg dat lyers se lewensverwagting tot 20 jaar laer as die gemiddeld is.
MITE Mense met skisofrenie kan nie herstel nie
Sowat 30% van mense met skisofrenie sal ’n standhoudende herstel toon en sowat 20% sal aansienlike verbetering toon. Sowat 50% sal ’n langtermynsiekte ervaar wat slegte en beter tye sal insluit.
MITE Mense met skisofrenie is gevaarlik
Geweld is nie een van die simptome van skisofrenie nie en lyers sal meer waarskynlik slagoffers van geweld wees as die geweldenaar.
*Skuilname