Wat dié kroeg uniek maak, is die meer as 60 Suid-Afrikaanse potketelbrandewyne wat in skemerkelkies of oor ys bedien word
Deur CLIFFORD ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Kurt Schlechter, ’n bekroonde mengeldrankie-spesialis, se gewilde skemerkelkie-kroeg CAUSE|EFFECT Cocktail Kitchen & Cape Brandy Bar, het ’n nuwe tuiste in The Rocket Shed, in die Victoria & Alfred Waterfront, gevind. Die kroeg was voorheen net bekend as CAUSE|EFFECT en is twee jaar oud. Dit het vanjaar se Cocktail Bar of the Year by die uitgelese Bartending Accolades & Recognition Awards 2019 gewen. Wat dié kroeg uniek maak, is die meer as 60 Suid-Afrikaanse potketelbrandewyne wat in skemerkelkies of oor ys bedien word. Dis die grootste versameling in enige kroeg in die land.
Die openingsgeleentheid is pas gevier en gaste kon ’n verskeidenheid potketelbrandewyne in die drankies van hul keuse geniet. Kurt neem met hierdie inisiatief hande met die nuwe Kaapse Brandewyngilde, om meer as 60 handgemaakte brandewyne op sy spyskaart te bied.
“Ek was nog altyd mal verlief op ons Kaapse potketelbrandewyne en ek leer elke dag net nog meer oor hul ongelooflike veelsydigheid. Ons wil hê dat meer mense die wonderlike potketelbrandewyne wat ons hier in Suid-Afrika produseer, ontdek.”
Christelle Reade-Jahn, Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting-direkteur, het by die opening vertel Suid-Afrikaanse brandewyn word volgens die wêreld se strengste riglyne gemaak en dus voortdurend as wêreldkampioene uitgesonder. Sy het gesê dis ongelooflik opwindend om innoverende brandewyne – veral in die hoogste kwaliteitskerf – op een rak te sien.
Kurt vertel dat hulle brandewyn-proeë aanbied, wat baie gewild onder oorsese toeriste is. Hy gebruik ook ’n verskeidenheid fynbos in sy drankies en het interessante houers waarin die drankies bedien word. Die kroeg se dekor herinner aan ’n historiese distilleerdery, met koperpype, vaatjies, allerhande gedroogde fynbos wat uit die dak hang en apteek-styl flessies waarin interessante tinkture gestoor word. Die kroegmanne maak hul eie bitters, tinkture, vermouth, vrugtestrope en kombucha. Alles word van die begin af self gemaak en vermeng,” vertel Kurt.
“Ons het ’n obsessie met fynbos en watter dimensie dit na die wêreld van skemerkelkies kan bring, wat onder meer spekboom, kapokbos, boegoe en ander fynbos insluit. Een van die ander gewildste drankies is die Nitro Martini, waar kliënte hul eie fynbos-mengsel van die gedroogde fynbos bo die kroeg kan kies. Dit word in vloeibare stikstof gevries en dan in ’n Kaap-geïnspireerde martini of vodka en Caperitif gebruik. Die Karoo Oester is vir die avontuurlustiges en bestaan uit eiergeel, Kaapse brandewyn Worcestersous en appel sider-asyn,” vertel hy.
As jy jou gunsteling drankie geniet het, kan jy by een van die tafeltjies ontspan met kaas- en vleisborde, hamburgers, of ander peuselhappies.