Wat is die verskil tussen ‘n skaam mens en ‘n introvert? Vind hier uit wat jy is
Zerelda Esterhuizen
Skaamheid word dikwels met introversie verwar. Volgens Louis Schmidt, direkteur van die Kinderemosielaboratorium aan die McMaster-universiteit in Amerika is daar ‘n verskil tussen die twee.
“Mense verwar die twee met mekaar omdat albei met sosialisering te doen het, maar dis duidelik dat ‘n vrees vir sosialisering van ‘n tekort aan belangstelling daarin duidelik van mekaar verskil,” sê hy.
Hy sê skaamheid verwys na gedrag en die gevoelens van spanning en ongemak wat jy ervaar as jy in ander mense se teenwoordigheid is. Introversie gaan meer oor motief: Wil jy saam met ander mense kuier of eerder alleen wees? Jy kan dus net skaam wees, ‘n introvert wees of ‘n skaam introvert wees.
Die Unisoultheory-webwerf gee tien tekens dat jou “skaamheid” eintlik net introversie is:
1 Mense beskryf jou dikwels as misterieus
Jy verklap nie graag persoonlike inligting nie en verkies om na ander mense te luister. Mense vind hierdie misterie baie interessant.
2 Jy is baie oplettend
Skaam mense is soms so senuweeagtig dat hulle nie juis die motiewe en karakters van ander mense bevraagteken of by hulle leer nie. Introverte het uitstekende observasievaardighede.
3 Jy besluit
Introverte neem versigtig besluite en verander nie graag van besluit nie. Skaamheid inhibeer weer besluite. ‘n Skaam mens sal dikwels ‘n wyle vat om te besluit, maar omdat hulle nie juis hul eie oordeel vertrou nie, sal hulle weer maklik van besluit verander.
4 Jy huiwer nie om plek of ruimte vir jouself op te eis nie
Dit is baie belangrik vir ‘n introvert se welstand. Hierdie selfsorg vereis egter selfvertroue wat nie gewoonlik by skaam mense gesien word nie.
5 Jy het lang blywende vriendskappe
Introverte is baie lojaal en koesters hul vriendskappe. Skaam mense kan weer sukkel om vriende te maak.
6 Jy word nie gou verveeld nie
Introverte se binnewêreld kan hulle sonder eksterne stimulasie aan die gang hou. Hulle vind nie ‘n lang stilte vreemd nie, terwyl ‘n skaam mens dit martelend kan vind.
7 Jy is baie kreatief
Daar word geglo dat introverte kreatiewer as ekstroverte is. Ware kreatiwiteit verg egter dapperheid, selfvertroue en selfkennis.
8 Jy kan konflik bestuur
Skaam mense sal konflik ten alle koste vermy. Introverte is weer gewillig om vir hul regte op te staan. Hulle kies argumente met sorg en sal aandag aan klein besonderhede gee.
9 Jy luister om te verstaan – nie om te reageer nie
Introverte is baie goeie luisteraars. ‘n Skaam mens sal dalk aandagtig luister, maar sal dit doen om ‘n aanvaarbare reaksie te lewer, nie om die persoon se siening te begryp nie.
10 Jy vermy gesprekke oor koeitjies en kalfies
‘n Baie skaam mens sal graag eerder oor ligte kwessies gesels omdat dit minder intimiderend en stresvol is. ‘n Introvert sal weer glad nie omgee om oor ernstige kwessies te gesels nie.
BRON: http://unisoultheory.com