
Daar is ’n nuwe sjiek kuierplek in Kaapstad
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die seeuitsigte van dié klassieke Franse bistro in Mouille Point smeek dat jy heeldag moet kuier. Die eetplek, Bobo’s Brasserie, het onlangs sy deure geopen en is deel van The Kove Collection in Kaapstad wat uit 14 restaurante, twee boetiekhotelle, bistros, strandkroeë en luukse kuierplekke bestaan.
Bobo is die voertaal vir hipster in Frans en dis beslis saam met wie jy hier gaan uithang. Die pragtige binneversiering is deur Soda Custom onderneem en met sjef Amber-May Deetlefs se bistro-styl disse, gaan jy beslis ure wil kuier.
Gaste is onlangs genooi om ’n glasie op dié nuweling se aankoms te klink en is onder meer met voorgeregte van slakke in knoffelbotter en kruie; aspersies met suurlemoen en hoofgeregte van witvis Nicoise getrakteer .
Daar kon met koffie voor die reuse ruite in gemakstoele gekuier word, terwyl die lewe buite die vensters hul gang gaan. Nagereg was crème brulee, sjokolademousse en suurlemoentert. Laatmiddag het die omgewing se hipsters vir skemerkelkies vergader terwyl die son oor die oseaan ondergaan.
Die restaurant het heerlike winter-aanbiedinge en ook vasgestelde spyskaarte as jy nie te veel dinkwerk wil doen nie, maar net lekker wil kuier en eet.
Die pragtige binne- versiering is deur Soda Custom Timothy Morgendal (bestuurder), Michellene Leo (bemarkingsbestuurder The Kove Collection), Shorai Charwadza (bestuurder by Bobo’s Brasserie in Mouille Point) en Alison Thomas, operasionele bestuurder The Kove Collection). The Kove Collection se uitvoerende sjef, Amber-May Deetlefs. Die suurlemoentertjies is by die middagete met bessiesorbet bedien. Bobo’s Brasserie in Mouille Point is ’n Franse styl bistro op sy heel luukste. Die restaurant se reuse vensters laat jou amper voel asof jy op die branders sit.

Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.