Peter van Schaik is die uitvoerende sjef by Clico Restaurant in Rosebank, Johannesburg, wat deel is van die Clico- vyfster-boetiekhotel wat vanjaar sy tiende verjaardag vier
Die restaurant was vandeesmaand ‘n jaar oud. Die hotel het drie agtereenvolgende jare TripAdvisor se Certificate of Excellence ontvang en is steeds een van TripAdvisor se hotelle met die hoogste puntetelling in Johannesburg.
Peter het sy opleiding by Prue Leith Chef Academy ondergaan en glo sy liefde vir kosmaak kom van sy voortvarende ma wat alles op hul plaas gekook, gebottel en gepreserveer het. Hy het voorheen by Die Ou Pastorie, die Forum Homini Hotel en Roots Restaurant, Singita Sabi Sands en die bekroonde Hotel Fauchere in Pennsylvania, Amerika gewerk.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Modern kontemporêr met ‘n sterk Franse invloed.
Beste kos-aanhaling wat jy al gehoor het?
Perfection is not born but created – Marnus Scholly (my sous-sjef).
As jy gaan uit-eet, wat bestel jy graag?
Ek eet meestal vegetaries, so wat ook al beskikbaar is, andersins bestel ek graag vis of seekos.
Wat is tans jou gunstelingrestaurant?
Tava Indian Restaurant in Midrand. Ongelooflike, tradisionele Indiese kos.
Wat was sover jou loopbaan-hoogtepunt?
Om vir die Mandelas te kook by die bekendstelling van sy biografie saam met Zelda la Grange.
Watter reuke laat jou na jou kinderdae verlang?
Aarbeie. Ons het daarmee geboer en my ma het graag aarbeikonfyt gekook of likeur gemaak of koek gebak of enigiets moontlik waarin sy aarbeie kon gebruik. Ons huis het vir maande na aarbeie geruik.
Wat sal jou beste kosbestemming wees?
Ek sal graag na Oos-Asië wil gaan vir die verskeidenheid bestanddele en die wonderlike cuisine.
Wat is jou gunstelingdrankie?
Koffie en kamilletee (nie saam nie, hoor!)
Watter vyf bestanddele is altyd in jou koskas?
Regte botter, kaas, rys en graan, vars groente en vis.
Wat is jou trooskos?
Dhal, rys en naanbrood. Dis net eenvoudige, gesonde, trooskos.
Wat is ‘n algemene fout wat tuiskokke maak, waarmee jy raad het?
Om nie al die bestanddele voor die tyd te berei en volgens ‘n tydsbeplanning te werk nie. As jy sistematies werk, sal jy suksesvol wees.
Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?
‘n Goeie mes is van kardinale belang.
Wat is jou sjefsleuse?
Master simplicity in order to master complexity.
Is daar een dis wat ‘n vriend, ma, ouma maak, waarvoor jy gereeld lus kry en dan bestel as jy gaan kuier?
Ek vind dit moeilik om iemand te kry wat vir my wil kook, want hulle voel almal te geïntimideer deur my wit baadjie…
As jy nie ‘n sjef geword het nie, in watter ander beroep sou jy jouself sien?
Miskien ‘n skrywer of ‘n beroep in holistiese medisyne.
Wat is die beste raad wat jy nog om die kookproses gekry het en wie het dit vir jou gegee?
Hmmmm, dit kom seker maar van my sjef, Christopher Bates, wat altyd sê jy moet net aanhou om jou nering te slyp en alle bykomende dinge is ‘n produk van toewyding.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
My uiteindelike doel is ‘n klein stukkie selfonderhoudende paradys ver van die groot stad, waar ek my eie seisoenale kos kan verskaf, my eie groente kan kweek en my eie diere kan aanhou. So half teruggaan na waar ek vandaan kom.
Na watter sjef kyk jy op?
Christopher Bates was nog altyd my grootste inspirasie om my eie visie te volg en kanse te waag.
Wat is jou gunstelingkrui?
Tiemie. Dit gaan so goed met baie disse – van soet tot sout.
Wat is jou gunstelingkookboek?
Die Larousse Gastronomique. Dis basies die sjef se Bybel.
Wat is die slegste maal wat jy al gehad het?
Ingelegde hoenderpote – suur, jellierige hoenderpote. Aaklig!
Peter se resep vir crème brûlée:
Bestanddele
100 ml room
1 eiergeel
10 g suiker
2 ml vanielje-ekstrak
Metode
Meng eier, suiker en vanielje-ekstrak in ‘n bak en klits tot die suiker opgelos is. Voeg die room by en meng goed. Druk deur ‘n sif. Skep in klein bakkies en sit in ‘n bak met water, bedek met foelie en bak teen 150 grade vir 20 minute, of tot heeltemal gestol.
Garneer met vars bessies of ‘n makrolletjie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.