The Fantastic Grifizzi Brothers – Braaivleis, Kattekwaad & Miracles! is tans by die Van der Stel Sportgronde op Stellenbosch en bied sirkus soos nooit tevore nie
Deur Maryke Roberts
Foto’s Cliffford Roberts en Allison Foat
Die span, onder leiding van Richard Griffin wat oor die afgelope paar jaar verantwoordelik was vir boheemse heerlikhede soos Madame Zingara, Cafè Paradiso, Cafè Mozart, Sidewalk Cafè, The Bombay Bicycle Club en die rondreisende The Theatre of Dreams, bring hierdie sirkus na die Eikestad, na ’n paar weke se uitverkoopte vertonings in Vishoek.
Dis sirkus soos waarmee ons grootgeword het, maar meer boheems, meer pret vir grootmense ook en geen diere in hokke wat deur ringe moet spring nie.
Verder is alles daar: die meisies met hul latlyfies met kostuums wat betower, wat hoog in die lug hul toertjies doen; snaakse manne met te groot klere en reuse skoene wat grappies maak; die eksotiese dansers en akrobate. Dis alles deel van The Story of the Moon, die verhaal hoe die maan graag deel wil word van die sirkus en haar reis om daardie droom te verwesenlik. Die vertoning het Marc Colli en Christine Chapman as regisseurs, is die breinkind van Richard Griffin, met Lilian Khumalo as Mama Circus as seremoniemeester met sanger Carmen Maarman aan haar sy.
Die sirkuswerf het nie net al die ritte soos die groot wiel, swaaie en vele meer nie, daar is gesigverf, ’n vrou wat tarrot-kaarte lees, vyf verskillende kroeë in boheemse styl en vyf restaurante wat selfs Halaal- en vegetariese disse bedien. Tussendeur kan die kinders hulle verkyk aan kulkunstenaars wat kaarte en rooi neuse agter hul ore uittoor en mans wat op stelte loop. Jy kan nie honger ly nie, want behalwe die restaurantjies, is daar ook nog spookasem en stokkieslekkers en springmielies en koeldrank.
By die antieke spieëltent kan jy in die kroeg kuier of buite op die stoepie by die barbier jou baard laat skeer. In die groot sirkustent word grootmense weer kind. Die vertoning sluit akrobate, musikante, indrukwekkende kostuum-ruil, komedie en vele meer in.
Jy kan besluit of jy net wil gaan kuier, die ritte wil geniet, die vertoning in die tent wil gaan meemaak. Elke afdeling het individuele pryse.
Die ervaring is nog tot 17 September aan. Bespreek by www.thegrifizzibrothers.com of 071 400 2250.