Ná ‘n suksesvolle speelvak in Kaapstad het Pieter Toerien se aanbieding van die silwerdoektreffer Singin’ in the Rain pas in Gauteng geopen
Dié musiekspel is tot 13 Maart te sien in die Teatro in Montecasino in Fourways. Bespreek by Computicket.
In die rol van Don Lockwood, ster van Hollywood se stilflieks van die 1920’s, is Grant Almirall te sien. Teenoor hom vertolk Bethany Dickson die rol van Kathy Selden, die aktrise wie se stem gebruik word vir die skrilstem Lina Lamont wanneer “talkies” eindelik Hollywood begin oorneem. Die rol van Lina Lamont word vertolk deur Taryn-Lee Hudson. In die rol van Cosmo Brown, Lockwood se vriend en vennoot, is Steven van Wyk te sien. Ook in die rolverdeling is James Borthwick, Anne Power, Duane Alexander en Mark Richardson.
Die regisseur is Jonathan Church. Andrew Wright is verantwoordelik vir die choreografie, Simon Higlett vir die ontwerp en Tim Mitchell vir die ligontwerp. Die musiekregisseur is Louis Zurnamer.
Die rolprentweergawe van Singin’ in the Rain is in 1952 uitgereik. In die rol van Don Lockwood was Gene Kelly en dié van Kathy Selden is vertolk deur Debbie Reynolds. Kelly en Stanley Donan was die regisseurs van dié MGM-produksie.
Kaartjies kos van R150 tot R450.