Om ‘n rolprent soos Singin’ in the Rain oor te vertaal na die verhoog moet ‘n besondere uitdaging wees. Maar te oordeel na die produksie wat tans in Montecasino se Teatro te sien is, ook ‘n heerlike projek.
Johan Myburg
Die finale produk verklap kwalik enigiets van die uitdaging en sing en dans uitgelate – van begin tot end. Dis pure verhoogproduksie en staan hoegenaamd nie in die skadu van die silwerdoek nie.
Die elemente wat dié weergawe van die MGM-treffer van 1952 laat slaag is knap regie en konseptualisering, uitmuntende choreografie, ‘n energieke rolverdeling en les bes tegniese vernuf. Want hoewel die sing-en-dans sekwens waaraan die musiekspel sy titel ontleen skaars vyf minute duur, is die ikoniese reëntoneel op die verhoog, wat ‘n tegniese nagmerrie sou kon wees, gewis ‘n hoogtepunt.
Aan die teks kon regisseur Jonathan Church nie veel torring nie, behalwe vir bolangse redigering en interpretasie. Maar ten opsigte van choreografie was daar carte blanche en Andrew Wright en Kelly Evins Prouse, die choreograwe, kon inspirasie put uit die fliekweergawe sonder om verplig te wees om dié choreografie te egg, soos in die Broadway-sekwens in die tweede helfte.
Die verhaal is dié van die einde van Hollywood se stilprente en die opkoms van rolprente waarin gepraat en gesing word.
Don Lockwood en Lina Lamont is die lieflinge van die stilprent-era. Lockwood kan die nuwe era tegemoet gaan, maar dis duidelik Lamont met haar ongelukkige skril stem het die einde van haar pad by Monumental Pictures bereik. En dis waar die praat- en sangstem van die aktrise Kathy Selden inkom.
Die rol van Lockwood word vertolk deur Grant Almirall, wat ook te sien was as Frankie Valli in Jersey Boys; en dié van Lamont deur Taryn-Lee Hudson wat haar vertolking deurspek met die kleinste nuanses en detail (soos “A flat” as musiekterm wat sy ligweg “’n flat”, soos in ‘n woonstel, maak). Bethany Dickson wat onlangs so indrukwekkend was in The Sound of Music vertolk die rol van Selden. Met dieselfde sekerheid as waarmee sy die karakter van Maria benader het.
Cosmo Brown, Lockwood se vriend en Monumental Pictures se repetiteur en musiekregisseur, word vertolk deur Steven van Wyk. Benewens sang en dans is dit Van Wyk, Almirall en Dickson wat as kranige tap-dansers vermaak en voor die eindgordyn die water behoorlik laat spat.
Louis Zurnamer is die musiekregisseur van die produksie en staan aan die hoof van ‘n span musikante wat van big & brass band tot swing baasraak. Ondanks die klankbalans wat Sondagmiddag besonder skerp was (‘n mens sou meer bas waardeer), dra die musiek dié produksie meesterlik.
Meteen verstaan ‘n mens waarom dié produksie op sy toer na die buiteland sulke gloeiende resensies gekry het. Dis vars, dis meesleurend en hope pret.
Die stel-en-kostuumontwerp van Singin’ in the Rain is deur Simon Higlett en die beligting is ontwerp deur Tim Mitchell.
Die rolverdeling sluit ook in Duane Alexander, James Borthwick, Anne Power en Mark Richardson asokk ‘n ensemble bestaande uit Claire Boswell, Thalia Burt, Mila de Biaggi, Stefania Du Toit, Ambre-Chanel Fulton, Richard Gau, Samuel Hyde, Kent Jeycocke, Catherine Lane, Michelle Lane, Sebe Leotlela, Anton Luitingh, Hope Maimane, Kenneth Meyer, Raquel Munn, LJ Nelson, Jarryd Nurden, Stephan van der Walt and Richard Vorster.
Die musikante is Louis Zurnamer en Kevin Kraak (klawerbord), Jacobus van Wyk (tromme), Graham Strickland (kontrabas), Carl Ashford, Brian Smith en Leagh Rankin (houtblasers), Mike Blake en Mike Magner (trompet) en Nick Green (tromboon).
Bespreek by Computicket. Tot 13 Maart. Besoek ook Pieter Toerien teater vir meer info