‘Die werk gaan oor mense van verskillende agtergronde wat byeenkom,’ sê Yinka Shonibare oor dié werk wat die Norval-stigting aangekoop het
Deur JOHAN MYBURG
Die Norval-stigting wat vroeër vanjaar ’n nuwe kunsmuseum in Steenberg, suid van Kaapstad, geopen het, het onlangs ’n beeldhouwerk van die Brits-Nigeriese kunstenaar Yinka Shonibare aangekoop. Die beeld van net meer as sewe meter en gemaak van geverfde veselglas, word in Februarie volgende jaar amptelik onthul.
Wind Sculpture (SG) III, soos die beeld heet, is een van ’n reeks in Shonibare se “windbeelde” wat lyk na ’n kleurryke stuk lap wat in die wind fladder. Sy Wind Sculpture (SG) I is vroeër vanjaar in New York se Central Park opgerig. Die idee vir die reeks kom van Shonibare se Nelson’s Ship in a Bottle, die werk wat hy in 2010 vir Trafalgar-plein in Londen se Fourth Plinth gemaak het. Hy het ’n skaalmodel van admiraal Horatio Nelson se HMS Victory in ’n tamaai bottel gemaak, met die seile in kleurryke batikpatrone – patrone wat mettertyd kenmerkend van Shonibare se werk geword het. Sy gevoel was dat die wapperende seile eintlik op sigself as beeldhouwerke kan deug, en siedaar!
Hoewel die tekstiele met batikagtige ontwerpe oorspronklik van Indonesië kom, het dié lap, wat algemeen in Wes-Afrika voorkom, ’n definitiewe konneksie met Holland se kolonialisering (soortgelyk aan shweshwe in die Suid-Afrikaanse konteks). Dit is juis dié historiese verbintenis wat Shonibare in sy werk ondersoek. Die lap word as ’t ware ’n metafoor vir migrasie en wêreldwye verbintenisse. By die oprigting van die beeld in New York het Shonibare opgemerk: “Die werk gaan oor mense van verskillende agtergronde wat byeenkom. Migrasie kom ter sprake, wat altyd sentraal in my werk is.”
LEES OOK: Kuns: Nirox-beeldhou-uitstalling
Oor Norval se jongste aanwins het Shonibare gesê: “Ek is opgewonde oor die feit dat die Norval-stigting Wind Sculpture (SG) III aangeskaf het. Dit dra tot die sigbaarheid van my werk in Afrika by … en dit maak my geweldig trots.” Shonibare is in 1962 in Londen gebore en het in Lagos grootgeword. Sy ouers het na Nigerië verhuis toe hy drie jaar oud was. Op 17 is hy terug Engeland toe, waar hy sy matriek behaal en daarna kuns gaan studeer het. Op 18 het hy inflammasie in sy rugmurg opgedoen, wat hom aan die een kant van sy lyf verlam gelaat het. Hy maak om dié rede van ’n span werksmense in sy ateljee gebruik om gestalte aan sy planne te gee.
Hy het sy MFA aan die gesogte Goldsmiths-kunsskool behaal en het daarna as ontwikkelingsbeampte vir ’n organisasie gewerk wat kuns vir mense met gestremdhede toeganklik maak. Vir documenta XI in 2002 in Kassel, Duitsland, het die kurator Okwui Enwezor hom opdrag gegee om ’n werk te maak. Shonibare het met Gallantry and Criminal Conversation vorendag gekom – ’n werk waarmee hy onmiddellik wêreldwyd aandag getrek het. In 2004 was hy een van die vier kunstenaars wat daardie jaar om die Britse Turnerprys meegeding het.
Hoewel Shonibare die populêre keuse was om dié prys te wen, is die Turner daardie jaar aan Jeremy Deller toegeken. Jare gelede het die MTNstigting Diary of a Victorian Dandy: 14h00 Hours (1998), ’n foto (chromageniese drukwerk of C-tipe drukwerk soos dit ook bekend staan) van Shonibare aangeskaf. Dié werk is een van ’n reeks met verwysings na bekende Britse visuele kuns en literatuur. In dié geval stel hy homself as ’n alternatiewe swart Britse dandy voor na aanleiding van William Hogarth se Rake’s Progress. Soos Hogarth parodieer Shonibare die establishment. Besoek www.yinkashonibarembe.com vir nog inligting