Die sesde Silwerskermfees wat jaarliks deur kykNET aangebied word, is oor vier dae by die Bay Hotel in Kampsbaai gehou.
Maryke Roberts
Dit word die Cannes-geleentheid van die Suid-Afrikaanse filmbedryf genoem en oor die vier dae word kortfilms en ’n hele paar vollengte films vertoon. Heelwat films het ook hier hul Suid-Afrikaanse première.
Die akteurs, klankmanne, fotograwe en regisseurs kuier saam met die publiek op die verskeie dekke en stoepe van die hotel, wat oor Kampsbaai uitkyk.
“Die Silwerskerm-kortfilmprojek is by uitstek ‘n talentontwikkelingsprojek. Elke jaar ontvang ons honderde konsep-inskrywings waarvan ons net 15 kan kies vir ontwikkeling en produksie,” sê Anneke Villet, toesigvervaardiger van die kortfilm-projek by die Silwerskermfees.
“Ons is altyd gelukkig met ons gekose 15, maar vanjaar was daar ’n 16de filmteks wat ons hoogs beïndruk het en dit was vir ons paneel besonder hartseer dat dit uitgeval het. kykNET het besluit om daardie teks saam met die skrywer te ontwikkel vir produksie tydens volgende jaar se kortfilmprojek en dit sal by die Silwerskermfees 2017 vertoon word. Die teks se titel is Soos Gister, geskep en geskryf deur Marvin Lee Beukes.”
Die wenner van die Blitz Pitch, waar feesgangers in drie minute ’n voorstel vir ’n nuwe reeks of rolprent moes maak, was Philip Nolte, wat die groen lig gekry het vir die storie Totsiens, Pa, sy kortfilm wat in 2014 deel van die Silwerskermfees was.
kykNET het ook vanjaar saam met die Nasionale Skoletoneel-kompetisie gewerk en Kaye Ann Williams, toesigvervaardiger: fiksie by kykNET, het aangekondig dat die skrywer en regisseur Louis Pretorius ‘n 48-minute kortfilm, Die Ruimte Tussen Niks, geskryf het wat later vanjaar vervaardig gaan word met die top-8 jong akteurs wat deel van die Nasionale Skoletoneel-kompetisie was.
Die top-8 skoliere was Mia van der Merwe, Jeanie Heyns, Jana van der Merwe, Tomley van Vuuren, René Cloete, Henry Serfontein, Wian Taljaard en Cantona James. Cantona het ‘n volle beurs gewen om volgende jaar drama by die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer.
Die wenners is:
Beste kortfilm: Vlees van my Vlees
Beste regisseur: Kortfilm: Matthys Boshoff – Vlees van my Vlees
Beste akteur: Kortfilm: Carel Nel – HUM
Beste aktrise: Kortfilm: Erica Wessels – Vlees van my Vlees
Beste draaiboek: Kortfilm: Willem Grobler – HUM
Beste redigering: Kortfilm: Leon Visser – HUM
Spesiale toekenning: HUM – Kinematografie
Beste dokumentêr: Nobody’s Died Laughing
Beste speelfilm: Johnny is Nie Dood Nie
Beste regisseur: Speelfilm: Christiaan Olwagen – Johnny is Nie Dood Nie
Beste akteur: Speelfilm: Albert Pretorius – Johnny is Nie Dood Nie
Beste aktrise: Speelfilm: Christia Visser – Tess
Beste manlike byspeler: Speelfilm: Ludwig Binge – Johnny is Nie Dood Nie
Beste vroulike byspeler: Speelfilm : Illana Cilliers – Johnny is Nie Dood Nie
Beste draaiboek: Speelfilm: Christiaan Olwagen – Johnny is Nie Dood Nie
Beste oorspronklike musiek: Speelfilm: Charl-Johan Lingenvelder – Johnny is Nie Dood Nie
Beste kinematograaf: Speelfilm: Bert Haitsma – Tess
Beste redigering: Speelfilm: Linda Man – Tess
Beste produksie-ontwerp: Speelfilm: Birrie le Roux – Johnny is Nie Dood Nie
Ivan Botha en Donnalee Roberts, rolprentvervaardigers en akteurs, wat in Vir Altyd te sien was op die fees.
Vir vier dae is die Bay Hotel in Kamspbaai ’n klein Cannes filmgeleentheid.
Die dinamiese groep vervaardigers, akteurs en draaiboekskrywers van Merk. Sny. Stoor.
Elzabe Zietsman (Minette) en Angelique Gerber (Anaïs) gesels met die televisie-aanbieders by die première van Dis koue kos, skat. Die speelfilm is tans in teaters.
Ludwig Binge, Willem Oelofson en Roelof Storm, wat al drie in Johnny is nie Dood nie gespeel het, maar ook by ander films betrokke was. Ludwig het die toekenning as beste manlike byspeler vir dié film ontvang.
Erica Wessels het die toekenning gekry vir beste aktrise: Kortfilm: Vlees van my Vlees.
SOURCES
Clifford Roberts en Robert Hamblin