Selfmedikasie hou baie voordele in, maar wees versigtig. Die volgende middels kan misbruik word. Lees meer in ons 4 Julie-uitgawe
Ansja Ferreira
1 Ritalin
Die meeste navorsing wys dat Ritalin en ander voorskrifstimulante veilige middels is, wanneer dit geneem word soos wat dit voorgeskryf is en die dosisse wat vir ADHD voorgeskryf word, sal kinders nie verslaaf of “hoog” maak nie. Die potensiaal vir misbruik kom voor wanneer diegene wat nie aan ADHD ly nie, dit sonder ‘n dokter se voorskrif en toesig neem. Sommige mense neem dit onwettig om wakker te bly, “hoog” te raak, langpad te ry, gewig te verloor en goed te doen in eksamens en toetse waarvoor hulle nie geleer het nie. “
Studente “leen” mekaar se Ritalin, bestel dit op die internet van oorsese aanlynapteke en versprei dit só onder mekaar. Dié met ADHD vir wie dit voorgeskryf is, verkoop selfs hul Ritalin aan ander desperate studente wat hul eksamens wil deurkom, vertel Elsie*, ‘n universiteitstudent. Suid-Afrikaanse Statistieke oor die misbruik van Ritalin en ander stimulante is moeilik om te bekom, maar volgens ‘n opname aan die Emory-universiteit in die VSA in 2010 het bykans 6% van die respondent erken dat hulle voorskrifstimulante minstens een keer gedurende die voorafgaande jaar sonder ‘n voorskrif gebruik het.
2 Verslankingsmiddels/dieetpille
‘n Studie deur die Universiteit van Minnesota se projek “EAT” het bevind teen die ouderdom van 19 en 20 het sowat 20% van die meisies in die studie reeds dieetpille gebruik. Onder diegene met eetversteurings is die gebruik van dieetpille so hoog as 50%.
Die Mayo Clinic waarsku dat baie dieetpille wat oor die toonbank gekoop kan word en wat verslawende middelss soos kafeïen en sekere kruiemiddels bevat, skadelik vir jou gesondheid kan wees, veral wanneer dit oor ‘n lang tydperk geneem word.
Die Mayo Clinic beveel aan dat daar opgelet moet word na tekens soos vinnige gewigsverlies, angstigheid, slapeloosheid en versteurings van die spysverteringstelsel en waarsku dat daar in sommige gevalle selfs uiters nadelige en selfs noodlottige gevolge as gevolg van kongestiewe hartversaking, beroerte of respiratoriese versaking met die gebruik van hierdie middels kan voorkom.
3 Kodeïen
“Ek het baie gesukkel met sinushoofpyne en migraine en het begin om ‘n bekende sinusmiddel te neem wat onder meer kodeïen bevat, vertel Helena* (45). Nadat ek die middel geneem het, het ek onmiddellik ontspanne, sonder enige pyn en gelukkiger gevoel. Later kon ek nie meer saans slaap sonder om die middel te gebruik nie. Ek het by verskillende apteke vir my voorraad van die pille gaan kry en toe besef dat ek daaraan verslaaf is en by my huisdokter hulp gaan vra. Kodeïen is op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se lys van noodsaaklike medisyne wat in ‘n basiese gesondheidsisteem benodig word.
Volgens die webwerf www.homedetox.co.za toon statistieke van dwelmbehandelingsentrums dat 8% van pasiënte as gevolg van kodeïenverslawing daar behandel word. In ‘n poging om die misbruik van kodeïenbevattende medisyne hok te slaan, is die Kodeïensorginisiatief in 2013 deur die Gemeenskapsapteeksektor (CPS) en die Aptekersvereniging van Suid-Afrika van stapel gestuur om verbruikers en pasiënte te help om die gebruik van nievoorskrifmedisyne wat kodeïen bevat, te verstaan, verantwoordelik te gebruik om mettertyd misbruik daarvan te verminder en uit te skakel.
Deur die gebruik van ‘n 2D-skanderingstrokie wat op alle verpakkings van kodeïenbevattende medisyne gedruk word, asook ‘n gesentraliseerde databasis om verbruikers se koopgeskiedenis na te spoor, sal die Kodeïensorg-inisiatief ‘n sleutelrol speel in die monitering en oudit van verkope en verskaffing van kodeïenbevattende medisyne terwyl dit terselfdertyd verantwoordelike selfsorg en selfmedikasie aanmoedig.