Wat dink jy is die geheim vir langlewendheid? Wel, volgens navorsers in Italië kan ‘n goeie aptyt (vir kos en seks) jou help
Zerelda Esterhuizen
Daar is ‘n dorpie in Italië waar daar ‘n ongewoon hoë aantal mense is wat oor die 100 jaar oud is. Om die waarheid te sê, ‘n ongelooflike 81 uit ‘n bevolking van 700 mense.
Die lewensverwagting in die dorp Acciaroli naby Napels is 92 jaar vir vroue en 85 vir mans.
Hierdie verskynsel het navorsers laat kopkrap. Wat presies is dit wat hierdie mense so oud laat word?
Hulle het ‘n studie van stapel gestuur en hierdie week hul bevindings bekendgemaak.
Studieleier Alan S Maisel van die Universiteit van San Diego sê hulle het in hul verslag Cilento on Aging Outcomes Study bevind dat die inwoners se Mediterreense dieet beslis ‘n groot bydrae lewer.
Hulle eet elke dag roosmaryn in hul kos en roosmaryn verbeter breinfunksie.
Die inwoners is ook fisiek aktief: hulle vang vis, stap gereeld en maak tuin. Omtrent almal doen elke dag iets fisieks.
Daar was nog iets wat hulle opgetel het. Die ouer mense is baie besig tussen die lakens.
Verder is daar baie min besoedeling en geen groot industrieë nie. Inwoners gebruik ook nie pesbestryders op hul groente nie.
Die navorsers het ook opgelet dat dit mans én vroue is wat baie oud word, terwyl daar gewoonlik geglo word dat vroue langer as mans leef.
BRONNE: Telegraph.co.uk, The Daily Beast, Cilento on Aging Outcomes Study