Dat Claudette Schreuders se beelde ’n emosionele geladenheid het, is sonder meer duidelik
Deur JOHAN MYBURG
Vroeër vanjaar het Claudette Schreuders The Bystanders, ‘n uitstalling in Johannesburg se Stevenson-galery, aangebied wat iets van ‘n oorsig oor haar werk gebied het. Benewens nuwe werk het sy 70 litografieë ingesluit wat ‘n mens as ‘n rekord van haar beeldhouwerk deur die jare kan sien. Dié litografieë, wat so ver teruggaan as 2003, is deur The Artists’ Press, Mark Atwood se ateljee by Witrivier, gedruk.
In die eerste plek ís Schreuders ‘n beeldhouer. Dit is met haar figure in jelutong en emaljeverf waarmee sy gestalte gee aan enkelinge, hul plek in die wêreld en les bes intieme binnegesprekke.
Sy was nog ‘n beeldhoustudent toe sy jare gelede kennis gemaak het met die Wes-Afrikaanse colon-figure, wat nie net ‘n verwysingspunt geword het nie, maar ook haar werk in ‘n rigting gestuur het. Dié houtfigure dateer van die Frans-koloniale era (“colon” is die Frans vir kolonis) en is dikwels uitbeeldings van koloniale staatsamptenare en soldate en soms ook van middelklas-Afrikane.
“Ek het destyds na heelwat Afrika-voorwerpe gekyk en onder die indruk gekom van hoe sterk dié beelde op ‘n emosionele vlak was, selfs al het ek nie die oorsprong of die funksie daarvan volledig begryp nie,” het sy in ‘n onderhoud met die Jack Shainman-galery in New York gesê. “Vir my was dit soos Middeleeuse beelde wat ‘n godsdienstige doel gedien het en wat ‘n emosionele lading gedra het, soos ‘n krag.”
Benewens dié colon-beelde het Schreuders se werk metaforiese wortels wat dit in ‘n wyer visuele argief anker – van die 17de-eeuse beelde van die Spanjaard Pedro de Mena tot so ver terug as die Romeinse penate, die huisgode wat mettertyd simbole vir die voortgesette lewe van huisgenote geword het.
Dat Schreuders se beelde ʼn emosionele geladenheid het, is sonder meer duidelik. Misterieus in hul privaatheid en vermeende huislikheid dui die beelde (van veral vroue) op meervoudige identiteite: Die vrou met die veraf staar in die oë, die geruite rok en ‘n paar bedeesde skoene kan ewenwel ‘n meermin wees. Of ‘n Madonna. Of ‘n talisman.
LEES OOK: Kuns: Beth Diane Armstrong
In haar herkenbare figure, handelinge en houdings is dit die sorg waarmee Schreuders gestalte gee wat opval: Die onbehandelde hout wat vel word, die kerfwerk wat tekstuur gee en die verfwerk wat tekstiele word. Oor haar hantering van skoeisel sou ‘n mens ‘n opstel kon skryf.
Waar haar litografieë as ’t ware ‘n rekord word van haar beelde – met ‘n greinerige bekoring van hul eie – is haar akrieltekeninge tweedimensionele eweknieë van die beelde. Gevoelig vir lig, vir skadu’s, kry dié figure lewe, soveel so dat ‘n mens voel asof jy daaromheen wil stap. Soos met die beelde.
Benewens uitstallings in Suid-Afrika het sy in 1999 werk in die Liberated Voices-uitstalling in die Museum for African Art in New York en daarna gereeld in die buiteland vertoon.
Schreuders was 28 in 2001 toe sy haar eerste solo-uitstalling in New York aangebied het. Burnt by the Sun was ‘n verkenning van witheid en haar ervaring van lewe in Suid-Afrika. Haar jongste uitstalling in New York was Note to Self in 2016. Soos die titel aandui, is die besinning en refleksie sleutelterme in haar werk.
Haar werk is in die versamelings van die Metropolitan Museum, New York; die DaimlerChrysler-kunsversameling in Berlyn en heelparty openbare en korporatiewe ondernemings in Suid-Afrika opgeneem.
Besoek www.claudetteschreuders.com vir nog inligting