Edward James het opdrag gegee vir die maak van die telefone en het minstens een daarvan in sy huis, Monkton in Wes-Sussex, gebruik
Deur JOHAN MYBURG
Toe dié rubriek geskryf is, het die Britse minister van die kunste hoog en laag probeer om te voorkom dat ’n kunswerk van Salvador Dalí die land verlaat. Michael Ellis het ’n tydelike uitvoerverbod geplaas op Lobster Telephone (White Aphrodisiac), een van 11 sulke handgeverfde telefone wat in 1936 gemaak is.
Die laaste een is, sover bekend, in private besit in Brittanje. Die uitvoerverbod is ingestel om te voorkom dat die kunswerk Brittanje verlaat indien ’n koper nie in die land gevind kon word nie. Hoewel die 11 telefoon-kunswerke van Dalí – sewe daarvan wit geverf en die ander vier rooi – op die oog af dieselfde lyk, is daar klein verskille wat elkeen uniek maak. Tate in Londen het in 1981 een van dié kunswerke – ’n kreefkleurige handstuk op ’n swart telefoon – vir sy versameling aangekoop. Die meerderheid van die wit weergawes is tans in kunsversamelings reg oor die wêreld: in Rotterdam, Florida, Minneapolis, Lissabon en in die versameling van die Johannesburgse Kunsmuseum (JAG).
Maar agter die totstandkoming van Téléphone – Homard soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is ’n verhaal wat begin by die Engelse digter Edward James (1907–1984), ’n eksentrieke man (die ware Britse weergawe van eksentrisiteit), kunsversamelaar en die stukrag agter die Surrealisme. In die katalogus vir Dalí: The Centenary Exhibition, die oorsiguitstalling wat in 2004/’05 in Venesië aangebied is, skryf Sharon-Michi Kusunoki dit was James wat Dalí die idee gegee het van die telefoonwerke. Volgens Kusunoki was James op besoek by ’n adellike aan huis en toe dié strek om ’n luiende telefoon te beantwoord, het sy per ongeluk ’n kreef opgetel. Dit was dié vergissing wat aanleiding gegee het tot James se opdrag aan Dalí om kreeftelefone te maak. Of dit anekdoties is of nie, die feit bly staan dat James opdrag gegee het vir die maak van die telefone en dat hy minstens een daarvan in sy huis, Monkton in Wes- Sussex, gebruik het.
LEES OOK: Kuns: Rafael
In sy outobiografie het Dalí later sy eie erotiese betekenisse aan krewe, soos aan telefone, geheg. James het ’n klein fortuin (onder meer eiendom) van sy pa en later ’n aansienlike bedrag van sy oom geërf. Geld was dus nooit ’n kwessie nie en James se eerste finansiële steun aan die kunste was toe hy as student aan Oxford vir die publikasie van John Betjeman se debuutbundel betaal het. In die 1930’s het hy kunswerke van die Surrealiste begin aankoop en een van die merkwaardigste versamelings in private besit opgebou. Dié versameling het ook werk van Hieronymus Bosch, Giorgio de Chirico, Paul Klee, Leonora Carrington, Pavel Tsjelitsjef, Pablo Picasso, Alberto Giacometti, Max Ernst en Paul Delvaux ingesluit.
Boonop het James, benewens praktiese hulp en ondersteuning, Dalí ’n jaar lank (1938) onderhou, en Magritte in sy huis in Londen laat woon sodat dié ongehinderd kon skilder. In 1937 het Magritte sy weldoener in die skildery La reproduction interdite (Verbod op afbeelding) verewig, tans in die versameling van die Museum Boijmans Van Beuningen in Rotterdam. Maar James se uitsonderlikste Surrealistiese skepping was Las Posas, ’n tuin hoog in die berge van Mexiko, kompleet met natuurlike watervalle en rotspoele. Maar ook met tamaai beelde in beton, sowat vier verdiepings hoog. Die bouwerk aan die tuin het iets soos vyf miljoen Amerikaanse dollar gekos – waarvoor hy uit die opbrengs van ’n veiling van sy versameling van Surrealistiese kuns betaal het.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.