Die wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Uitdaging is onlangs by Ellerman House in Kaapstad bekend gemaak
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts en Danie Nel
Onder die land se top 10 was vyf nuwelinge en vyf vorige wenners. Gaste kon by die pragtige gastehuis al tien wyne met peuselhappies proe.
Die druiwe vir die bekroonde wyne kom van so ver as die Sederberg, maar dan ook Stellenbosch, insluitende Bottelary en Faure; Darling; Elgin; Durbanville; die Swartland, spesifiek Voor-Perdeberg; Perdeberg; Malmesbury; Tygerberg; Slanghoek; Wellington en Botrivier.
Spier het sedert die instelling van die kompetisie in 2014 nog elke jaar die Top Tien-lys gehaal en DeMorgenzon, elke jaar sedert 2015. Stellenrust was weer elke jaar op die lys sedert 2014 met die uitsondering van 2016. Vanjaar is ook die derde keer dat Leopard’s Leap die lys gehaal het.
Ken Forrester, voorsitter van die Chenin Blanc-vereniging, sê: “Vanjaar se 159 inskrywings was 17% meer as verlede jaar, terwyl plaaslike verkope en uitvoere van Chenin blanc-wyne aan die toeneem is. Chenin is besig om volwassenheid te bereik. Dis nie meer ’n niche-variëteit geliefd net in die binnekringe van die wynbedryf nie, maar dit is besig om ’n breë gevolg op te bou.”
Ken sê die veelsydigheid van Chenin, die verskeidenheid wynstyle waartoe dit homself leen en die feit dat dit so ’n uitstekende kosmaat is, is van die redes vir die variëteit se toenemende aanhang. Die plaaslike tendens is in lyn met die groeiende internasionale belangstelling in die druifsoort, wat al meer oorsee gesien word as Suid-Afrika se visitekaartjie.
Suid-Afrika het meer Chenin blanc-wingerde as enige ander land ter wêreld. Van die 159 inskrywings wat ontvang is, was 113 gehoute en 46 ongehoute wyne. Almal is blind geproe deur ’n paneel van vyf beoordelaars.
Cathy van Zyl MW, die paneelvoorsitter, het gesê die meeste van die bekroonde wyne se druiwe is van ouer wingerde afkomstig. “Een van die wenners se druiwe kom van ’n 12 jaar oue wingerd, maar die res van wingerde is ouer as 27 jaar. Die oudste wingerd onder die wenners is 65 jaar oud.”
Sy het voorts genoem dat Suid-Afrikaners voortreflike Chenin blancs teen bekostigbare pryse, met die gemiddelde prys van die top 10-wyne teen sowat R200 kan koop. “Hierdie wêreldklas-wyne bied uitsonderlike waarde, met van die bekroonde wyne wat in die kleinhandel tussen R70 en R375 beskikbaar is.”
Simon Field MW, ’n wyn-adviseur van die VK wat in die wyne van die Loire-gebied in Frankryk spesialiseer, waar Chenin blanc sy oorsprong gehad het, was die buitelandse beoordelaar. Hy was beïndruk met die wyne wat hy as hoogs gesofistikeerde, smaaklike en professioneel gemaakte wyne in ’n verskeidenheid style beskryf het.
Die bekroonde wyne is:
Cederberg Private Cellar Five Generations Chenin Blanc 2016
DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2017
Jean Daneel Wines Signature Chenin Blanc 2016 (debuut)
Leopard’s Leap Culinaria Chenin Blanc 2016
Mulderbosch Vineyards Chenin Blanc Steen op Hout 2017 (debuut)
Slanghoek Wynkelder Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2016 (debuut)
Spier Wines 21 Gables Chenin Blanc 2017
Stellenrust ‘53’ Barrel Fermented Chenin 2017
Wellington Wines La Cave Chenin Blanc 2016 (debuut)
Wildekrans Barrel Select Chenin Blanc Reserve 2017 (debuut)