Die Jakarandastad het verlede week die land se eerste melktertkoningin opgelewer
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Rita Schuster het die eerste Deeghuys Melktert-kampioenskap gewen.
Daar was meer as 300 inskrywings en die semi-finaal is op 25 Februarie in Kaapstad gehou, met tien semi-finaliste wat hul terte vir proeë gebring het. Die beoordelaars – sjefs Reuben Riffel, Zola Nene en Nic van Wyk, en ook De Wet Barry, oud-Springbok, en Michael van Niekerk, eienaar en stigter van Deeghuys, het al die proewerk gedoen.
Rita het Riaan Grobler, Martie Lamprecht en Liezel Hartzenberg vir dié tite uitgestof.
Die melktertkompetisie-kampioen word in samewerking met die bekendstelling van die resepteboek, Suid-Afrikaanse Melktert-versameling, deur Callie Maritz en Mari-Louis Guy aangebied. Die resepteboek het meer as 80 melktertresepte – een om almal se smaak en elke geleentheid te pas. Die geure wissel van tradisionele kaneel tot nartjieskil, perskeblare, neutmuskaat of vanieljepeule, selfs amandelgeur, karamel, sitrusskil of kardemom. Behalwe vir ’n tert kan hierdie resepte gebruik word vir ander lekkernye, gebak of ongebak, as ’n nagereg, smoothie, shooter, melkskommel of as vulsel vir oliebolle. Daar is ook resepte van regoor die wêreld.
Toks van der Linde, seremoniemeester by dié glansgeleentheid, het aan elke finalis gevra wat hulle glo ’n melktert ’n wenner maak en wat hul herinneringe aan melktert is. Riaan het geantwoord dat dit nie lekker moet lyk en proe nie, maar dit moet jou ook terugneem na die beste melktert wat jy al ooit geniet het. “En myne doen dit,” het hy trots vertel.
Rita het vertel dat sy al van kleins saam met haar ma melktert gebak het. Martie het gesê vir haar maak botter en skilferkorsdeeg die verskil en Liezel sê melktert moet happie vir happie in jou mond smelt.
Die kompetisie ter viering van Nasionale Melkertdag gehou wat jaarliks op 27 Februarie plaasvind en is die eerste van sy soort. Nic van Wyk, een van die beoordelaars het gesê die beoordelaars het ’n besonder moeilike taak gehad om ’n wenner aan te wys. “Ons het almal op die ou einde saamgestem dat Rita se melktert al die elemente van ’n goeie melktert gehad het,” het hy vertel.
Rita het behalwe haar lekker prysgeld, ook die naamregte op Suid-Afrika se beste melktert. Lesers kan binne die volgende twee maande by Deeghuys-winkels landwyd Rita se wenmelktert koop. Sy wen ook 10%-tantieme vir elke melktert wat by al 22 Deeghuys-takke verkoop word.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.