Bain’s Cape Mountain Whisky word by die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington na aan die Bainskloofpas distilleer en verouder.
Maryke Roberts
Die whisky vereer Andrew Geddes Bain, die baanbreker-padbouer wat die Bainskloofpas in 1853 gebou het om Wellington en die binneland te verbind. Bain’s is die enigste whiskydistilleerdery in Afrika en het by die 2016 International Spirits Competition in Londen ‘n goue medalje verower.
Dié whisky is in 2009 bekend gestel nadat dit meesterdistilleerder, Andy Watts, tien jaar geneem het om te vervolmaak. Andy sê hy het in die laat jare negentig besef Suid-Afrikaners het die palet ontwikkel om ‘n nuwe premiewhisky te aanvaar.
‘n Groep gaste is onlangs by die Twelve Apostles Hotel and Spa in Kaapstad trakteer op dié kampioen-whisky, wat saam met verskeie disse gepasmaat is. Gaste kon die whisky op verskillende tye in sy verouderingsproses uit die vat proe.
Andy het verduidelik dat wanneer ys bygevoeg word, die whisky “toe” maak, maar “sy ware self verklap as jy water teen kamertemperatuur, byvoeg”.
Die whisky het tydens die 2013 World Whiskies Awards (WWA) in Londen die oë laat rek, toe dit aangewys is as die Wêreld se Beste Graanwhisky. Andy sê dat naas die WWA toekenning, was dit ‘n trotse oomblik toe Bain’s Cape Mountain Whisky einde verlede jaar in die VSA geloods is, onder andere New York. ‘n Mens kan nou in een van die mees byderwetse stylkroeë in New York ons trots Suid-Afrikaanse whisky geniet!”
Die whisky word van Suid-Afrikaanse mielies gemaak en is die enigste van sy soort in die wêreld.
Die whisky het sy besondere smaak te danke aan dubbelveroudering in gekeurde eerstevulvate, waarin daar voorheen Amerikaanse whisky was. Dit verouder eers drie jaar lank, en word dan vir nog 18 tot 30 maande lank in ‘n nuwe stel vate oorgetap. Dit mag net whisky genoem word, as dit vir ten minste drie jaar in eikehoutvate verouder is.
“Whisky is ‘n reis. Al drink jy net een, doen jouself ‘n guns en maak dit die regte een,” het Andy afgesluit.
• Andy Watts se 25 jaar as meesterdistilleerder by die James Sedgwick-distilleerdery , verdien behoorlik ‘n heildronk nadat hy ook twee goue medaljes ingepalm het by die 2016 International Spirits Challenge vir sy Three Ships Premium Select 5 Year Old en Three Ships Bourbon Cask Finish gekry het. Al die voorste whisky-handelsmerke van orals ter wêreld ding by dié glansryke kompetisie om die aandag van die internasionale beoordelaarspaneel mee.
Andy Watts, meesterdistilleerder by die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington, saam met radiopersoonlikheid, Maurice Carpede.
Die pragtige James Sedgwick-distilleerdery in Wellington.
Die whisky word in vate verouder.
SOURCES
Clifford Roberts