Die wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Uitdaging is onlangs by ’n funksie in die Zeitz MOCAA kunsmuseum in die Kaapstadse Waterfront aangekondig
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc-vereniging, het gesê die wenners lewer ’n bewys van die indrukwekkende vordering met hierdie variëteit.
Die wenners, in alfabetiese orde, is:
• Cederberg Cellars Five Generations Chenin Blanc 2017
• DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2018
• Durbanville Hills Collector’s Reserve The Cape Garden Chenin Blanc 2018 (nuut)
• Flagstone Winery Tributary Bush Vine Chenin Blanc 2018 (nuut)
• Ken Forrester Wines The FMC 2018 (nuut)
• Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2018
• Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2018
• Rijk’s Cellar Touch of Oak Chenin Blanc 2017
• Slanghoek Wynkelder Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2017
• Stellenrust The Mothership Chenin Blanc 2018
Stellenrust is die enigste produsent wat sedert die instelling van die kompetisie in 2014 nog elke jaar die Top Tien gehaal het. Hierdie onderskeiding is sedert 2015 ook elke jaar deur DeMorgenzon behaal.
“Internasionale smaakbepalers se toenemende fokus op Chenin blanc het ongetwyfeld gehaltestandaarde help verhoog,” sê Ken Forrester, die vereniging se voorsitter. “Die onlangse Chenin blanc-kongres in Angers in Frankryk het by afgevaardigdes die mate waarin Suid-Afrikaanse produsente met hierdie variëteit gevorder het, tuisgebring. Ons glo die 150 wyne, ingeskryf deur 87 produsente vir vanjaar se kompetisie, lewer bewys hiervan.”
Ken sê wat by die kongres in Angers, die tuiste van Chenin blanc in Frankryk opgeval het, was dat die welslae wat baie Suid-Afrikaanse wynmakers die laaste klompie jare met hierdie variëteit behaal het, die Franse nou groter aandag aan hierdie druifsoort laat gee. Hy het na ʼn onlangse uitspraak van die Britse wynskrywer Tim Atkin MW verwys, wat sê dat “hoewel die Franse onwillig mag wees om dit te erken, ek meen dat Suid-Afrika se prestasies met chenin blanc, wynmakers in Anjou en Touraine beïnvloed het op dieselfde wyse waarop Argentynse malbec Cahors beïnvloed en bande tussen die twee versterk het”.
Waar dit vroeër byna uitsluitlik in Suid-Afrika en Frankryk aangeplant is, word dit nou in 23 lande verbou en is dit vandag die 26ste mees aangeplante variëteit, met wingerde wat in totaal tussen 33 000 en 36 000 ha beslaan. Suid-Afrika is die land met die grootste aanplantings van Chenin, wat 17 000 ha beslaan.
Cathy van Zyl MW, voorsitter van die paneel van beoordelaars, het aan gaste gesê die meerderheid van die Top Tien-wyne is gemaak van druiwe afkomstig uit wingerde wat 30 jaar en ouer is, die oudste een is 55 jaar gelede geplant. “Onder hulle is daar ook wyne gemaak van druiwe van stokke wat tien en agt jaar oud is wat dui op wat met kundige wingerdbou en wynmaaktegnieke bereik kan word.” Die druiwe van vyf van die Top Tien kom van wingerde in die Stellenbosch-omgewing terwyl die druiwe vir die ander vyf in die Sederberg en die omgewings van Durbanville, die Paarl, Slanghoek en Wellington gekweek is.
Die gemiddelde prys per bottel van vanjaar se bekroonde wyne het tot R255,80 gestyg, met R108 die goedkoopste en R550 die duurste. Die gemiddelde verlede jaar was R200.
Nico Groenewald, Standard Bank se hoof van landboubesigheid het gesê dat hy verheug is dat Suid-Afrika verlede jaar – ten spyte van ’n depressiewe ekonomie, R10 biljoen se uitvoere vermag het. En ’n groot gedeelte van hierdie groei is te danke aan wyn en daarbinne is Chenin blanc die top-presteerder. “Ons soek maniere om die ekonomie te help groei en staan agter vennote wat dit regkry. Deur ons vennootskap met Chenin Blanc SA het ons al R1,3 miljoen aan sosiale investering spandeer.” Hy het uitgelig dat uitvoere hoog op die prioriteitslys is as manier om die ekonomie te laat groei.
Standard Bank skenk ʼn kontantprys van R25 000 vir elk van die bekroonde wyne wat produsente op ʼn wyse wat ekonomiese en sosiale voordele in die werkplek versterk, moet bestee. Hy het vertel dat baie van die wenners begin het om die prysgeld in bydrae te ewenaar en groot sukses in hul sosiale projekte behaal.
Die 2019 se beoordelaarspaneel vir 2019 wasCathy van Zyl MW (voorsitter), Richard Kershaw MW, James Pietersen (Wine Cellar), Joseph Dhafana (La Colombe), Fabien Laine (in Frankryk gebaseer, gewese sommelier, wynbeoordelaar, entrepreneur op die gebied van sosiale media), en die assosiaat-beoordelaar Penelope Setti (Chef’s Warehouse).
Jeff Grier, ondervoorsitter van die Chenin Blanc Assosiasie, het aan gaste vertel dat hy glo Chenin blanc se skitter al helderder en dis alles te danke aan die harde werk van die vereniging.