Die 17de SA Kaasfees is op Sandringham buite Stellenbosch gehou en meer as 30 000 mense het dit bygewoon
Deur Maryke Roberts
Die 17de SA Kaasfees, die grootste buitelug-kosgebeurtenis in Afrika, is twee naweke gelede op Sandringham buite Stellenbosch gehou en meer as 30 000 mense het dit bygewoon. Die fees is pas weer deur AAXO (African Association of Exhibition Organisers) as Beste Verbruikersuitstalling aangewys.
Boetiek- en kommersiële kaasmakerye van regoor die land bring jaarliks meer as 20 ton kaas na die fees. Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, organiseerders van dié fees, was hulle vanjaar saam met die uitstallers verras oor die sterk koopkrag by die fees, ten spyte van die ekonomiese uitdagings vir die verbruiker, en skryf hulle dit toe aan die gehalte van die produkte.
Kaasfeesgangers kon vanjaar ’n verskeidenheid interaktiewe kos-ervarings geniet waaronder eksklusiewe kaasmaakdemonstrasies; die Ladismith Kaaskerfkompetisie; inskrywings vir hul waterwys-kaasresep vir die #YourWheyWithCheese-kookuitdaging, wat deur Liesl Armstrong van Durbanville gewen is. Sy het ingeskryf omdat sy as kankeroorwinnaar geleer het om elke geleentheid met ope arms aan te gryp.
As huiskok wou sy nog altyd “bitter graag ’n sjefkursus bywoon om die fyner kunsies te bemeester”, ’n droom wat waar geword het danksy die SA Kaasfees. Sy wen ’n Jenny Morris-kookkursus, ’n Leon the Milkman-kaasmaak-werkswinkel en Taurus-kombuistoerusting.
Glanssjefs het in die drie kosteaters gekook: Jenny Morris (The Giggling Gourmet), Kamini Pather (MasterChef SA-wenner), Pete Goffe-Wood, Carmen Niehaus en Leon die Melkman was in die Agri-Expo Cooking Pot; Herman Lensing, Zola Nene en Johnny Hamman was aan die stuur van kosdemonstrasies in die Cape Made Kitchen, in vennootskap met die Institute of Culinary Arts (ICA). In die Tasting Room is Suid-Afrika se top tien Chenin blanc’s en verskillende soorte tee saam met kaas geproe, asook ander nisprodukte soos sjokolade, droëvrugte en neute.
Verskeie nuweling boetiek-kaasmakers waaronder Vredesberg, ’n bemagtigingsprojek van Kareedouw, kon vir die eerste keer aan die fees deelneem danksy die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL) en Absa. Agri-Expo, feesorganiseerders van die SA Kaasfees, en die WKDL se gesamentlike “Cape Made: Taste the Alternatives”-projek het ook aan kleiner produsente en entrepreneurs, wat alternatiewe gewasse bevorder ‘n geleentheid gebied om hul unieke produkte ten toon te stel.
Nog ’n nuwe toevoeging was ’n toegewyde #waterwys-uitstalarea. In reaksie op Wesgro se oproep om die ekonomie tydens die droogte in die Wes-Kaap te ondersteun, het die organiseerders besluit om ’n bydrae tot waterbesparingsveldtogte te lewer. Vanjaar is daar spesiaal waterwysresepte vir kookdemonstrasies by die fees ontwikkel, wat vervat is in ’n gratis resepteboek as deel van die Cape Made-projek. Besoek www.cheesefestival.co.za om die Cape Made-resepteboek gratis af te laai.
Die 18de SA Kaasfees vind plaas van Vrydag 26 April tot Sondag 28 April 2019.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.