Rooibos Limited het pas sy nuwe besoekersentrum en teekamer in die hartland van die rooiboswêreld, op Clanwilliam, geopen
Deur MARYKE
ROBERTS
Foto’s Maryke
Roberts
House of Rooibos is nie net ’n lekker teekamer en kuierplek nie, daar is ook ‘n winkeltjie én video-aanbiedings wat die rooibos-boerdery verduidelik. House of Rooibos bied ’n lekker versnapering-bord met verskillende soorte rooibostee en ander peuselhappies om op die stoep van die gerestoureerde ou huis of in die tuin te geniet.
Gerda de Wet, Rooibos Limited se skakelpersoon, het by die openingsgeleentheid aan gaste gesê dat sy baie opgewonde oor rooibos se nuwe tuiste is. Die gebou is sentraal en omdat rooibos so ’n integrale deel van die gemeenskap en die omgewing se toerisme-aanbieding is, was dit belangrik om ’n besoekersentrum en teekamer in die dorp se sakekern te kry.
“Die groter doel van die teekamer is om vir besoekers ’n omvattende rooibos-ervaring te gee. Nie alleen het ons kort video’s wat die hele proses visueel verduidelik nie, maar die inligtingsborde is ook in agt tale. Daar is QR-kodes, wat besoekers in staat stel om die proses in hul eie taal te volg.”
Gerda het gesê dat die klein handelsgedeelte wys dat jy nie net tee van rooibos kan maak nie, maar dat daar reeds ’n wye reeks ander produkte soos seep, velsorgprodukte, kolwyntjiemengsels, jellies en vele meer, beskikbaar is. Baie van die produkte is tuisgemaak deur mense uit die gemeenskap wat al jare met die voordele van rooibostee vertroud is en hul eie handelsmerke gevestig het.
Die idee dat jy benewens ander versnaperinge ook ’n bord met komkommer-toebroodjies, souttertjies en soetgoed saam met ’n pot tee kan bestel in ware high tea styl, was die breinkind van Surika Baard.
House of Rooibos is Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 oop en in Voortrekkerstraat, Clanwilliam geleë.