Wil jy hê jou kortverhaal moet in Vrouekeur verskyn? Hier is riglyne
- Vrouekeur se lesers is intelligent, oopkop en modern. Verhale wat lesers uitdaag, verras en oor kwessies laat dink, sonder om voorskriftelik te wees, val in ons smaak. Enige genre word verwelkom.
- Kortverhale moet tussen 1 450 en 1 500 woorde lank wees. Die storielyn moet interessant wees en die aandag van lesers behou. Bly eerder weg van ʼn epiese verhaal vol komplekse subtemas en groot tydspronge – die
formaat van die tydskrifverhaal leen hom nie daartoe nie. - Indien ʼn verhaal potensiaal toon en met veranderings verbeter kan word, sal ons verhaleredakteur dit voorstel. Die skrywer kan dan self besluit of hy/sy die veranderings wil aanbring en weer vir publikasie wil voorlê. Wanneer die redakteur voel die verhaal het nie potensiaal nie, sal dit bloot afgekeur word. Geen korrespondensie sal verder daaroor gevoer word nie.
- Pasop vir die ‘‘het ge-”vorm in Afrikaans. Binne die bestek van die tydskrifverhaal bemoeilik dit dikwels die leeservaring. Voorkeur word gegee aan verhale in ʼn toeganklike, moderne idioom en gemaklike styl, en waarin die skrywer respekvol en kreatief met die taal omgaan.
- Onthou, konflik vorm gewoonlik die kern van enige goeie storie, of dit nou ’n romantiese, dramatiese of komiese verhaal is. Die belangrikste bly egter die storie. Jy moet ʼn storie hê om te vertel en dit só skryf dat ander dit graag wil lees.
- Of jy ’n derde- of eerstepersoonverteller wil gebruik, hang natuurlik af van die soort storie wat jy vertel.
- Vermy clichés en soetsappigheid met alle mag.
- Jy kan oor enige tema onder die son skryf, solank jy met die tema bekend is. Moenie bang wees om navorsing te doen om jou skrywershand te sterk nie.
- Minder is meer. Waak dus teen lang, ingewikkelde sinne of oormatige beskrywings met ʼn oormaat byvoeglike naamwoorde. Karakters en hul taalgebruik moet geloofwaardig wees.
- Skryf die TITEL van die verhaal asook die NAAM EN VAN van die skrywer aan die begin van die verhaal. As jy ʼn skuilnaam wil gebruik, dui dit duidelik aan. Moenie vergeet om jou e-posadres by te voeg nie.
- Laat asseblief ʼn maand toe nadat jy jou verhaal ingestuur het om reaksie van ons verhaleredakteur te kry.