Richland Rum, die bekroonde rum van ’n familieplaas in Georgia in die Verenigde State van Amerika, is nou die enigste enkel-landgoed rum wat in Suid-Afrika beskikbaar is
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Richland Rum is onlangs in Kaapstad aan die media en gaste bekendgestel in ’n tradisionele “speak easy” kroeg, waar gaste ’n kodewoord moes gee voor die deur van ’n versteekte kroeg vir hulle geopen is. Dié gebruik kom uit die dae van Prohibisie in Amerika, toe alkoholgebruik heeltemal verban is en net in fluisterkroeë beskikbaar was. Prohibisie het vir 13 jaar geheers – van 1920 tot 1933.
Die gashere vir die aand was Ludgero da Cruz en Douglas Oberwortmann, die eienaars van Covert Distributions, wat die handelsmerk na Suid-Afrika invoer.
Richland maak die afgelope twintig jaar rum en gebruik twee suikerriet-variëteite wat daar in die sanderige grond van die landgoed voorkom, voor dit in koperpotte gedistilleer word en dan vir ’n minimum van 40 maande in nuwe Amerikaanse wit eikehoutvate verouder word.
Richland Landgoed produseer suikerriet om in hul rum te gebruik, eerder as die meer algemene molasse en die landbou- en produksieproses fokus meer op die ontwikkeling van die potensiële geure van die rum. Die suikerriet word in ’n rietstroop verwerk, voor die gedistilleer en verouder word. Die meeste kommersiële rums beskikbaar word van molasse gemaak. Molasse is ’n neweproduk van die suikerrafinering. Suikerrietstroop is tradisioneel in die 18de en 19de eeue gebruik.
Daar is nou vier rums in die reeks beskikbaar in Suid-Afrika: Virgin Coastal Georgia Rum, Old South Georgia Rum, Chateau Elan Port Cask Exchange en Old South Georgia Rum Terrapin Double IPA Cask Exchange.
Richland Rum se eienaars, Erik en Karin Vonk, glo aan hangemaakte produkte wat met sorg vervaardig word en dit is beloon toe Forbes verlede jaar die titel van “The Best American Rum” aan die Richland Rum Cask Strength toegeken het.
Die fokus by Richland Rum is lang veroudering, handgemaakte produkte wat met sorg gemaak word. Elke bottel het ’n etiket waarin die oorsprong aangedui word: die vat- en bottelnommer en die jaar waarin dit produseer is.
Douglas verduidelik: “Die term enkel-landgoed verteenwoordig die mantra van veld tot glas – elke stap in die rum-vervaardiging gebeur op die plaas. Geen produkte van buite die landgoed word gebruik nie.”
Gaan proe die rums by Cause|Effect en Athletic Social Club in Kaapstad en kan by uitgesoekte handelaars soos Norman Goodfellows en Bar Keeper gekoop word.