Nadia de Kock het verlede jaar haar hart op Istanboel verloor en vanjaar opnuut die stad se bekoring ervaar
Istanboel het my verlede jaar in slegs twee dae so aangegryp dat ek vanjaar terug is vir nóg nege dae se sinlike ervarings. Terugskouend het ek nooit ’n kans teen die stad se bekoring gehad nie. Dit is as ’t ware in die sterre geskryf dat ek hier sou beland; jare gelede het ’n geliefde ’n hegte band met dié plek gehad. Ek vermoed die ongewone naam, “Istanboel”, het tóé reeds in ’n hoekie van my onderbewuste nesgeskop.
Verlede jaar vlieg ek in die Europese lente met Turkish Airlines na die Griekse eiland Lesbos waar ek ’n skryfskool bywoon. Vir die terugvlug besluit ek op die ingewing van die oomblik om twee dae in Istanboel oor te staan, en beklink só niksvermoedend my lot. Ek keer gefassineerd en met ’n kop vol klanke terug na Suid-Afrika. Die vroegoggend-gebedsoproepe klink vir my soos geheime wat oor ’n mistige Bosporus aangerol kom, die tremklokkies is helder en die seemeeue raas by die Galatabrug waar vissermanne geduldig op ’n byt wag. Die herinnering aan die geur van appeltee, gerookte paprika en die vis by die Eminönü-hawe vervaag mettertyd, maar ’n knaende verlange bly.
Ek begin die Nobelpryswenner Orhan Pamuk se werk lees. Sy beskrywing van Istanboel se hüzün is welbekend. Hüzün is ’n Arabiese woord wat losweg as “melancholie” vertaal kan word. Volgens die skrywer ly die inwoners van die stad aan ’n gesamentlike melancholie. Ander skrywers voer aan dat dit veral in die winter waarneembaar is. In hierdie tyd gesels ek met ’n jong vrou van Keulen en sy vertel my dat Istanboel haar gunstelingplek is. Sy beduie na die hoendervel op haar skraal bruin arms en verklaar enigmaties dat die hüzün sommiges na die stad teruglok. Verlede jaar skyn die son elke dag en dit is dalk die rede waarom ek geen weemoed aanvoel nie. Hierdie jaar kuier ek in die vroeë lente gedurende ’n ontydige koue front daar en ek verbeel my by tye dat ek die hüzün voel. Ek moet egter dadelik byvoeg dat die pret wat ek en my reisgenote het, enige melancholie vinnig laat verdwyn.
Opgeruimde restauranteienaars, winkeliers en handelaars – almal gesoute flankeerders – sorg dikwels vir ’n ligte aanslag en baie lag. Ons bly in Sultanahmet, die kern van die ou stad. Die groot besienswaardighede is almal hier bymekaar: Die Blou Moskee, die Hagia Sophia-museum, die Basilika Sisterne en die lieflike Topkapipaleis, blyplek van die sultans. Ek gaan stap laat die eerste aand op die byna verlate Sultanahmet-plein en die verligte Hagia Sophia in die nag is ’n gesig om te aanskou. Die antieke Kelte het in “dun plekke” geglo, plekke waar die hemel en aarde maar ’n meter van mekaar is, en dit voel vir my of die Hagia Sophia een van hierdie plekke is. Richard Fidler skryf in sy Ghost Empire dat ene Robert Hichens ’n eeu gelede gesê het dat hy in die Hagia Sophia gevoel het asof hy gelyktydig besit en vrygestel word.
Fidler, ’n nugter geskiedenisentoesias, het op sy beurt die eerste keer onder daardie enorme goue koepel ’n elektriese tinteling van die middel van sy rugstring tot by sy kroontjie gevoel. Hy het meteens besef hy staan in een van die manjifiekste geboue op aarde. Vir 1 500 jaar was Istanboel (toe nog Konstantinopel) die hoofstad van die Romeinse, Bisantynse en Ottomaanse ryke. In 1923 bring die progressiewe Mustafa Kemal Atatürk die sekulêre Turkse republiek tot stand en gee onder andere aan vroue stemreg voordat baie Westerse lande dit doen. In 1930 word Ankara tot hoofstad verklaar, maar Istanboel bly die kultuursentrum, die geliefde stad.
Vandag is wolkekrabbers teen die horison opmerklik, maar vanuit die intieme ou stad kan ’n mens kwalik glo hier woon 14 miljoen mense. Sultanahmet en sy pronkstukke word na behore opgepas. Tydens ons besoek was die Blou Moskee vir instandhouding gesluit en die Basilika Sisterne en Argeologiese Museum om dieselfde rede gedeeltelik toe. Stap mens egter ’n entjie verder, na die histories Griekse en Joodse woonbuurte van Balat en Fener, is die aftakeling opvallend. Toegegee, daar is hoekies van vernuwing en die strate is rommelvry, maar talle geboue getuig steeds van armoede en onordelike ontwikkeling. Die eeu-oue Ottomaanse huise leun na mekaar toe of hel gevaarlik oor. Uitbreiding aan hierdie huise kon slegs boontoe geskied en nuwe verdiepings is lukraak bygelas. Verf dop af en vogtigheid teen mure is oral sigbaar.
Op die koue dag wat ek daar rondloop, lê die hüzün dik. Miskien voel dit so in alle plekke wat met geskiedenis deurdrenk is, waar glorie en verval langs mekaar staan. Die nou straatjies hier kronkel teen steil heuwels uit en mens kan vir ure ronddwaal en jou lyf flaneur hou. Die twee buurte is deesdae die blyplek van kunstenaars en ontwerpers en daar is talle koffieplekkies, antiekwarewinkels en klein galerye wat gelukkige snuffel-uurtjies waarborg.
In 2003 het die stad en die Europese Unie ’n vernuwingsprogram vir Balat en Fener van stapel gestuur en baie van die verwaarloosde geboue is reggemaak. Verandering vind stadig plaas, maar die huur is meer bekostigbaar as elders. Nog ’n buurt waar kunstenaars vergader, is Cihangir, wat teen die heuwel van Taksim na die Bosporus aftuimel.
Cihangir word as die “boheemse hart van Istanboel” beskryf en dit is ’n modieuse plek. Hier drink jy latte en eet jy Franse éclairs, maar omdat jy in Istanboel is, ook Turkse koffie en stroopsoet baklava. Ná dié suikerinspuiting sien jy dalk kans om op jou spoor terug te loop, heuwel-op. So nie, hou jy heuwel-af na die Galatabrug toe. Cihangir is ook die tuiste van skrywers. Orhan Pamuk se Museum of Innocence, sowel as sy kantoor, is hier geleë.
Een middag gaan ek na die chaotiese studio van Avni Akmehmedoglu. Hy was vroeër een van die mees gerekende antieke-kenners in die stad, maar op ’n dag is sy lewe in ’n ander rigting gestuur en begin hy skilder. Hy is nie Engels magtig nie en met gebaretaal koop ek vir my ’n ramkat van ’n rooi kat met blou oë. Nadat hy die skildery geteken het, stap hy uit na sy posseëlgrootte stoep en steek ’n stuk koerantpapier aan die brand. Hy maak net daar sy handtekening met die vlam se hitte droog. Kromgetrekte bejaardes met wêreldwyse oë en jillende skoolkinders, donker mans in swart jasse en vroue met kopdoeke in gedempte kleure, veerbote wat heen en weer op die Bosporus vaar, verweerde geboue en dun plekke, hüzun. Istanboel is al hierdie goed, en meer. Sy is, ná alles, die koningin van stede.