Dis nie elke dag wat Suid-Afrikaners die geleentheid kry om premium Australiese wyne te proe nie, en boonop deur Paul Lapsley, Accolade Wines se 19de hoofwynmaker, aangebied
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Paul het Suid-Afrika pas besoek om Suid-Afrikaanse wyne te proe en ’n paar van sy gunsteling Australiese wyne met gaste te deel. Die geleentheid is by Flagstone Winery in die Strand vir 10 gaste aangebied.
Accolade Wines is die vyfde grootste wynmaatskappy in die wêreld en lewer jaarliks ongeveer 38 miljoen kaste wyn aan meer as 140 lande wêreldwyd, waaronder Australië, die VK, Europa, die VSA, Kanada, Japan, Nieu-Seeland en China. Die maatskappy het 51 handelsmerke in meer as 140 lande en hul hoofkantoor is in Old Reynella.
Hulle het in 1853 as Thomas Hardy and Sons begin en oor die afgelope 165 jaar ook as BRL Hardy, The Hardy Wine Company en Constellation Wines Australia bekendgestaan, voor die huidige naam.
Die maatskappy besit verskeie wynplase regoor die wêreld; 10 in Australië wat oor 20 premium wynstreke in Wes-en Suid-Australië strek, Victoria en een vonkelwyn-produsent, House of Arras, in Tasmanië en Flagstone in die Strand, as hul Suid-Afrikaanse been, wat drie etikette produseer. In Suid-Afrika is die hoofwynmaker Gerhard Swart.
Paul maak al vir meer as 35 jaar wyn. Hy het in Sydney grootgeword en toe in die Hunter-vallei in Australië sy wynmaak-loopbaan begin, ’n vallei wat hy as die beste plek in die wêreld vir semillon beskryf, medium-ronde Shiraz. Hy het ook in die Swan-vallei by Houghton gewerk, toe Margaret River en Frankland.
Hy het die wynprodusende streke in die land uitgelig vir hul unieke eienskappe en die verskillende wyn-vlugte so ingedeel. Australië het 64 wynstreke en Tasmanië is ’n wonderlike wynstreek om te ontgin, het hy vertel. Hy glo Australië “wapper die vlag vir Shiraz in die wêreld” en het verskeie Shiraz-voorbeelde laat proe, waaronder die Eileen Hardy Shiraz 2015; Filsell Barossa Old Vine Shiraz 2016; en Leasingham Provis Single Vineyard Shiraz 2016.
Ander enkel-wingerd en versnitte was onder meer Chardonnay, Riesling, Pinot Noir en Cabernet Sauvignon.
Gaste kon ook die bekroonde Flagstone Treaty Tree, ’n versnit van Sauvignon blanc en Semillon, saam met aandete proe, voor die Australiese proe voortgesit is.
Die Australiese wynproe is afgesluit met ’n rare wyn: die Hardys Rare Liquer Sauvignon blanc waarvan daar net 500 bottels beskikbaar is. Dit word van die wêreld se oudste Sauvignon blanc blok gemaak en is ’n gefortifiseerde wyn. Dit is met blokkies melktert bedien.
Paul het na afloop van die proe ook terugvoer gegee oor sy indrukke van Suid-Afrikaanse wyn. Hy het goeie wyne tydens sy besoek geproe.