Ons gesels oor doemprofete in ons 14 Augustus-uitgawe. Ansja Ferreira het ‘n paar energiediewe opgespoor en deel wenke uit oor hoe om hulle die hasepad te laat kies
Ansja Ferreira
Toe jy vroeg vanmôre opgestaan het, was jy van voorneme om ‘n wonderlike dag te hê. Tot die telefoon gelui en jou vriendin oor haar seer rug en migraine, haar onredelike baas en haar stout kinders begin kla het. Boonop hou sy nie op praat nie. Nadat jy ‘n halfuur met haar gepraat het, het jou hele bui ook verander. Dit voel asof onsigbare pyltjies van negatiwiteit jou reguit in die bors getref het.
Die mense naaste aan jou, soos jou familie, vriende en kollegas, beskik oor die vermoë om jou te beïnvloed. Ons almal ken iemand wat ons net nie goed laat voel nie. ‘n Mens kan nie jou vinger daarop lê nie, maar so iemand sal jou gespanne, onveilig en vasgevang laat voel. Jy voel instinktief jy wil uit sy pad kom. As jy nie gou genoeg wegkom nie, voel jy asof jou energie al hoe minder word. Jy kan selfs siek of neerslagtig begin voel.
Negatiewe mense is soos energievampiere wat jou energie stukkie vir stukkie uitsuig …
Sien hulle raak
Die kletser
So iemand put jou uit met haar aanhoudende gepraat. ‘n Mens raak later moedeloos omdat jy self nie ‘n woord inkry om jou mening te lug nie. Sy weet ook gewoonlik alles van alles af en is altyd reg. Daar is selfs ‘n mediese begrip vir mense wat te veel praat naamlik “logorrhea”.
Die smartvraat
Die smartvraat floreer op pyn en hartseer en vertel sy hartseer verhaal aan almal wat wil luister. Hy verwag ook dat almal hom moet jammer kry en met hom moet simpatiseer. Die smartvraat kan nie eintlik sonder sy swaarkry en probleme leef nie, want anders is daar niks oor om oor te praat nie. Hy tap jou energie, want jy moet heeltyd moed inpraat, simpatiseer, raad gee en probeer help.
Die blameerder
Die blameerder is die ewige slagoffer en neem nie verantwoordelikheid vir haar eie lewe nie. Alles is altyd iemand anders se skuld. Sy hoef nie sukses in haar lewe te behaal nie, want iemand anders kan altyd vir haar mislukkings geblameer word. ‘n Voorbeeld is ‘n jong vrou wat haar geskeide ouers vir haar onvermoë om ‘n werk te behou of dwelmverslawing blameer, terwyl sy eintlik self verantwoordelik is vir die foute wat sy begaan het.
Die dramakoningin
Sy is gewoonlik ‘n baie selfgesentreerde persoon en ‘n manipuleerder by uitstek. Sy het die kuns bemeester om iets uit niks te maak; om ‘n drama uit selfs die kleinste voorval te skep. Sy smag na aandag en hoe meer aandag sy kry, hoe meer wil sy hê. Haar emosionele uitbarstings is genoeg om ‘n mens emosioneel totaal uit te put.
Die hulpelose
Ons almal ken die veeleisende persoon wat altyd hulp nodig het met hierdie en daardie probleem. Daar is gereeld een of ander krisis wat in sy lewe opduik waarmee jy moet help. Hy sal ook gereeld raad by jou vra, maar nooit van jou raad gebruik maak nie.
Die immer olike
‘n Mens is eers verskriklik bekommerd oor so iemand, want daar is altyd iets fout. Vandag het sy ‘n migraine en môre is dit weer maagpyn, volgende week is daar weer iets anders. Daar gaan nie ‘n week verby dat daar nie een of ander skeet is nie, maar as die mediese fonds al amper uitgeput is en daar ná al die toetse nog geen verklaring vir die kwale gevind is nie, begin ‘n mens tog wonder of die probleem nie dalk in die “pasiënt” se kop sit nie. Die woord “ipekonders” kom onwillekeurig by jou op. So iemand floreer op die aandag wat sy as gevolg van die siektes en kwale kry.
Die foutvinder
Hierdie persoon is hopeloos te lief daarvoor om te kritiseer. Dit laat hom beter oor homself voel wanneer hy ander se foute kan uitwys. Hy raak ook maklik by argumente betrokke en onenigheid kan daaruit spruit. Moet ook nie probeer om saam met hom te gaan uiteet nie, hy is geneig om die kos onnodig terug te stuur en met alles fout te vind.
Dít is energiesielkunde
Dr Irene Strydom is ‘n sielkundige wat op Stellenbosch en Wellington werk. Sy verduidelik hoe energiesielkunde werk: “In die sielkunde gaan alles eintlik oor psigiese en fisieke energie – hoe ons dit gebruik, hoe ons herlaai, die positiewe of negatiewe invloed wat ons op ander het en wat ander op ons het.
“As ons aanhoudend meer psigiese energie uitgee as waaroor ons beskik, stuur ons een of ander tyd op ‘n psigiese verduistering af. Vermoeiende en veeleisende mense vat eenvoudig soveel as moontlik van mense wat baie het en weet baie keer nie eers dat hulle energieverbruikers is nie. Sulke mense maak ‘n mens moeg, is gewoonteklaers en raak nooit van hul probleme ontslae nie.
“By mense wat energie skep, voel ons weer tuis en veilig en verkwik na liggaam en gees wanneer ons ná ‘n positiewe gesels- en kuiersessie terugry huis toe. Die nadeel hiervan is dat ons dalk juis weer so ‘n persoon te gou sou wou opsoek, sodat jou siel weer opgekikker kan word. As die energieskepper toegee, sal sy vind dat sy ander meer kere moet help as wat sy kan en só word sy dan later ‘n energieverkwister. Sy het inderdaad nog nie geleer om die geskenk van positiewe energie te koester en daarna om te sien nie.
“Sy loop dus die gevaar om iets moois waarmee sy dalk gebore is, te verloor. Die vrou wat geleer het om lewensenergie te spaar deur genoeg te rus, gesond te eet, met positiewe dinge besig te wees, haar met mense met inbors te omring, tyd in die natuur deur te bring, alleentye te kan geniet en elke dag ‘n goeie daad te verrig, kan ‘n meester van die lewe genoem word. “Energiemeesters is wyse mense wat baie gou uit elke ervaring leer wat die lewe bied en wat uiters aanpasbaar is. ‘n Energiemeester het die kuns van ons lewe hier op aarde al gedeeltelik bedink en beleef en weet al min of meer wat om te doen om die vlammetjie van lewe en liefde aan te gee sonder om self uitgedoof te raak.”
Speel klaar met hulle!
Volgens dr Irene is die hantering van probleemmense in jou lewe eenvoudig:
· Stel duidelike grense aan energieverbruikers – as jy dit nie kan doen nie, mag jy nie kla oor negatiewe patrone wat jou strem nie; jy geniet dit dan eintlik om te bly soos jy is.
· As jy nie weet hoe om van ‘n energieverbruiker ontslae te raak nie, kry professionele hulp, want jou liggie kan in ‘n oogwink gedoof word.
· As jy ‘n energieverkwister is, draai briek aan, want jou verlies aan energie is gevaarlik vir jou geesteswelsyn en gesondheid.
· As jy ‘n energieskepper is, word ‘n energiemeester en leer hoe om jouself en ander energie te gee sonder om emosionele en fisieke skade te ly.
· As jy ‘n energiemeester wil word, fokus op alles in jou, in mense en die natuur wat lewensenergie versinnebeeld: asemhaling, hartklop, sweet, trane, oogkontak, verwesenheid, desperaatheid, honger, die aandster, springgety, stilte, dooie gety, water, woorde, woestyn. “Ek moet weet hoe die dooie gety voel om werklik die energie van springgety te waardeer. Die energiemeester weet hoe om albei te waardeer, die ‘baie doen’ en die ‘niks doen’, die ‘baie wees’ en die ‘min wees’.
Nog wenke
- Vermy die energiedief as jy kan.Dit is onmoontlik om deur ‘n nat modderbedding te stap sonder om jou skoene vuil te maak. Die enigste manier om die modder (of negatiwiteit) te vermy, is om in die eerste plek nie daardeur te stap nie. Het jy regtig hierdie negatiewe mense in jou lewe nodig?
- As jy die moed daarvoor het, vertel die persoon hoe hy jou laat voel. Sê vir hom dat jy getel het hoeveel negatiewe dinge hy in ‘n uur gesê het. Dit is skokterapie en hy gaan dalk baie kwaad vir jou wees, maar dit kan dalk net werk.
- Knip eenvoudig die gesprek kort.
- Moenie op die negatiewe reageer nie. Moet jou nie aan sulke mense steur nie. Laat dit soos water op ‘n eend se rug wees.
- Moenie op enige negatiewe stellings reageer nie.
- Bou jouself op deur dinge te doen wat jou gelukkig maak.
- Behou perspektief. Onthou, niemand is 100% van die tyd positief nie. Almal kry hul af dae en almal ondervind teenspoed en probleme.
- Bring meer tyd saam met positiewe, opbouende mense deur.
Besoek dr Irene Strydom se webwerf by www.irenestrydom.co.za