Vir talle matrikulante kan die matriekeindeksamen een van die stresvolste gebeurtenisse in hul lewens wees.
“Stres is noodsaaklik vir oorlewing,” sê Anke Becker, ‘n lewensafrigter.
“Ons het al almal gehoor van die veg-of-vlug-reaksie. Dit is die liggaam se natuurlike manier om jou te teen fisieke gevare wat jou kan seermaak beskerm. Die probleem kom egter in wanneer ons dieselfde reaksie ervaar in situasies waar ons nie fisiek in gevaar is nie. Dit is hoekom dit nodig is om tussen negatiewe en positiewe stres te kan identifiseer,” sê sy.
Positiewe stres of “Eustres”
- motiverend en help om jou fokus te behou
- is van korte duur
- voel opwindend
- verbeter jou prestasie
- is nie oorweldigend nie
- het ‘n positiewe effek of geen effek nie op ander gebiede van jou lewe (verhoudings, gesondheid, slaap, ensovoorts)
Aan die teenoorgestelde kant van die spektrum het ons negatiewe stres of “distress”. Dit
- veroorsaak angs en bekommernis
- kan kort of lank wees
- voel oorweldigend
- voel ongemaklik, onplesierig
- verminder/verswak jou prestasie
- kan tot fisiese en emosionele probleme lei
- het ‘n negatiewe effek op ander gebiede van jou lewe (verhoudings, gesondheid, slaap, ensovoorts)
Dit is wel belangrik om te onthou dat negatiewe stres nie altyd deur eksterne faktore veroorsaak word nie, maar ook deur ons gedagtes, waarop ons fokus en ons daaglikse gedrag.
Die oorsprong daarvan is ons vrese, onrealistiese verwagtinge (van self en ander), oor skedulering, om nie selfgeldend te wees nie, wanneer ons nie beplan nie en perfeksionistiese verwagtinge, om maar net ‘n paar te noem.
As jy kyk na die oorsake/bron van hierdie stres kan jy dadelik sien daar is al klaar iets wat jy kan doen:
- Stel klein doelwitte wat nie oorweldigend is nie (daagliks, weekliks, maandeliks)
- Wees realisties
- Beplan jou dag/jou week en dit sluit jou eie tyd ook in
- Sê nee, moenie jouself oorlaai nie, jy is ‘n mens, nie ‘n robot nie
- Wees sag met jouself, dit is oukei om nie als gelyk te kan doen nie
Angs en depressie is twee aparte nagevolge van verskeie bronne van stres en sommige van hormoonwanbalans, maar wanneer dit kom by die behandeling van al drie, is die algemeenste die volgende: medikasie, alternatiewe & natuurlike terapieë, sommige mense vermy ‘n oplossing en hol anderpad, en dan is daar die moeilike ene – om die oorsaak van die probleem te ontdek en dan bewustelik te werk om jouself beter te leer ken en insig en wysheid in die proses te verkry.
Verandering is nie maklik nie, veral wanneer dit ‘n lewenslange gedragspatroon of geloofstelsel is (ek is nie goed genoeg nie). Verandering is nie maklik nie, maar dit is vir diegene wat regtig wil voluit leef. Verandering begin by ‘n keuse, ‘n keuse om te verander. Verandering op sy eie is ook stresvol! Maar sodra jy weet jy wil veranderinge maak – volg op met dade. Die wêreld lê ooop voor jou. Jy weet nie wat jy mis nie!
Studeer om te onthou
Konsentrasie gedurende ‘n studiesessie kan baie help om die inligting te laat vassteek sodat jy dit sal onthou.
- Skakel jou selfoon af terwyl jy studeer of los dit in ‘n ander kamer om die versoeking te vermy.
- Verander die onderwerp wat jy studeer elke twee uur vir afwisseling/verskeidenheid.
- Neem gereelde, geskeduleerde studiebreuke. Normaalweg kan die brein nie vir langer as 40 minute konsentreer nie. Dit is die beste om in een uur gedeeltes te studeer, wat opgebreek word in 40 minute studeer, ‘n tien-minute-blaaskans en tien minute vir hersiening. Studeer twee tot drie uur ‘n dag gedurende die week en vier tot vyf uur oor naweke.
- Verdeel groot take in kleiner take wat makliker is om te voltooi. Maak eenvoudige breinkaarte waar daar met ‘n oogopslag ‘n oorsig van die hele gedeelte van die werk is. Jy is dan in staat om die verband tussen al die subopskrifte te sien en te verstaan. Gedeeltes van die werk moet goed genommer word met duidelike subopskrifte
- Toets jouself laastens. Stel vrae op oor sleutelgedeeltes in notas of leesstof.
Besoek Anke se webwerf by www.beckerliving.com
Sadag: 0800 12 13 14 of www.sadag.org