Die doel van die organisasie is om volhoubare toerisme te bewerkstellig en die plaaslike gemeenskap deel van opheffing en opleiding te maak
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Proe Stellenbosch is pas aan die publiek bekendgestel om die jeug van plaaslike gemeenskappe met gasvryheidsopleiding en mentorskap by te staan. Die projek is onder leiding van die sjefs George Jardine (voorsitter) en Bertus Basson (ondervoorsitter) en is in samewerking van Stellenbosch Wynroetes geloods. George is die eienaar en sjef van Jordan Restaurant en Jardine Restaurant en Bertus van Overture, Eike, Spek & Bone en De Vrije Burger.
Gaste is by een van die organisasie se lede, The Vine Bistro at Glenelly, vir middagete onthaal waar van die sjefs en protégés wat deel van die opleidingsprogram vorm, aan gaste voorgestel is. Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch Wynroetes vertel: “Stellenbosch is bekend vir sy kulinêre uitmuntendheid, en ons sjefs en restaurante word gereeld plaaslik én internasionaal bekroon. Talentvolle sjefs en mentors sien daarna uit om hul vaardighede en kennis in die gemeenskap terug te ploeg.”
George Jardine beaam die sentiment: “Ons is opgewonde vir die geleentheid om ons merkwaardige kosgemeenskap onder die vaandel van Proe Stellenbosch te verenig.” George het self onder mentorskap gebaat, deur waardevolle kennis onder die Michelen-ster sjef, Jean-Christophe Novelli op te doen.
Die doel van die organisasie is om volhoubare toerisme te bewerkstellig en die plaaslike gemeenskap deel van opheffing en opleiding te maak, sodat jongmense in die toerismebedryf en veral die gasvryheidsbedryf hul merk kan maak. Bertus het vertel dat die organisasie geleenthede gaan skep om restaurantvaardighede aan te leer; deurlopend werkservaring aan te moedig en vertroue in die kombuis en in die restaurant te bou.
Behalwe George Jardine en Bertus Basson, is van die land se bekendste kospersoonlikhede deel van Proe Stellenbosch, waaronder wynmaker en restaurateur George Dalla Cia, sjefs Gregory Czarnecki (Restaurant at Waterkloof), Michael Broughton (Terroir), Christophe Dehosse (The Vine Bistroat Glenelly en Joostenberg Bistro) en Karine Dequeker (eienaar van Majeka House). Die groep beoog om sowat 100 lede teen die einde van 2019 te hê wat ‘n beduidende diversiteit verteenwoordig.
Drie protégés wat opleiding ondergaan het by Stellemploy en Bergzicht Opleidingsentrum, het die hoofmaal vir gaste berei en is aan gaste voorgestel. Marisa Solomons (Majeka House se Makaron Restaurant), Lungelwa Booysen (Restaurant Jardine) en Susanda Hayizana (Eike Restaurant) is deel van die eerste groep sjefs wat in die kombuise van Proe Stellenbosch-lede werk.
Bertus het genoem dat hy self nie matriek het nie, maar dat sy lewe deur kos verander is. “Ons kan so baie mense se lewens verander deur opleiding en kos en daardeur vir hulle werk te skep. Ons doel is om jongmense van niks na groot hoogtes te neem.”
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.