Taste the Helderberg – die gesofistikeerde jaarlikse sluk-en-kou instelling by die NH Lord Charles hotel op Somerset-Wes het onlangs weer plaasgevind.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Wynplase en restaurante in die aanloklike Helderberg-streek, een van die vyf subroetes van die Stellenbosch Wynroetes, gooi jaarliks vir net een aand hul arms gul oop en vertoon trots hul plaaslike kos en wyn.
“Taste the Helderberg het een van die hoogtepunte op die Wes-Kaapse wynkalender geword,” sê Stellenbosch Wynroetesbestuurder, Elmarie Rabe. “Die sosiale geleenthede wat die spesiaalste herinneringe maak, is selde só goed sonder goeie kos en wyn en Taste the Helderberg het dit alles.”
’n Hoogtepunt vir veral wynliefhebbers by Taste the Helderberg 2017, was die geleentheid om ’n vroeë kykie en proetjie van die streek se nuutste wyne te kry, sowel die proekans van die ikone wat hierdie sub-streek in die visier van internasionale connoisseurs geplaas het. Die meeste van hierdie apploustrekker wyne sal te koop wees teen spesiale promosie-pryse, wat ook geldig is met aflewering deur die logistieke- en vervoer-oplossingsmaatskappy, Aramex, ’n trotse vennoot van Stellenbosch Wynroetes.
Daar was ook opskietrestaurante deur die Helderberg se kosplekke soos Taste Bistro, Chelsea Cafe and Bean, Ghenwa’s Lebanese Cooking Club, Ideatree, Mistress of Spice and Indian Foods, Sweet Cillie’s Cakery en The Goose Roasters.
Die wynplase wat hul wyne te proe aangebied het, was Alto, Eikendal, Ernie Els, Flagstone, Grangehurst, Haskell, Hidden Vally, Idiom, Ken Forrester, King Kloof, Lourensford, Lyngrove, Morgenster, Post House, Somerbosch, Stonewall, Vergelegen, Vergenoegd, Waterford en Yonder Hill.