’n Proe die Beste Gourmet-aand is by Die Boer Teaterrestaurant in Durbanville gehou
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die gaskunstenaar vir die aand was Bok van Blerk en saam met hom op die verhoog was Pinotage-legendes, Abrie Beeslaar van Kanonkop, De Wet Viljoen van Neethlingshof, Etienne Louw van Altydgedacht en Duimpie Bailey, wat in die sestiger- en sewentigerjare vir van die land se voorste Pinotages verantwoordelik was. Duimpie het vir Beyers Truter van Beyerskloof, wat in Londen was, ingestaan om ’n toekenning te ontvang.
Die aand is deur die Pinotage Assosiasie in samewerking met Absa aangebied. Gaste het die geleentheid gehad om wyne van Beyerskloof, Beeslaar (Abrie se eie etiket), Kanonkop, Altydgedacht, Maastricht en Neethlingshof saam met ʼn viergang maaltyd deur sjef Jean Louis Geldenhuys, wat al 12 jaar by Die Boer werk, te geniet.
Die idee agter die gourmet-aande, wat vanjaar vir die vierde maal gehou is, is om Pinotage, ’n unieke Suid-Afrikaanse produk, bekend te stel en ook die bekende wynmakers wat bekroonde Pinotage-wyne maak, met wynliefhebbers te laat kuier.
De Wet was die seremoniemeester en het vertel dat Abrie al twee maal as die wêreld se beste wynmaker aangewys is. Altydgedacht se etiket het onlangs die toekennings as mooiste wynetiket by die Winelabel Design Awards ontvang.
Abrie het verduidelik hoekom houtverouderde wyne duurder is as dié wat in vlekvryestaaltenks gehou word. “Uit een wynvat kry jy ongeveer 300 bottels. Een eikehoutvat uit Frankryk kos ongeveer R15 000. As jy dus die hoeveelheid bottels deur die koste van die vat deel, is R50 van die wyn se prys alleen net die vat se koste. Dan moet die bottel, kurk, etiket en ander kostes nog bygevoeg word.”
Duimpie vertel dat die pa van Pinotage, Prof. Abraham Izak Perold, wat die Pinotage-druif uit ’n kruising van Pinot Noir en Hermitage gemaak het, die wêreld deurkruis het om ’n druif te vind wat goed in Suid-Afrikaanse omstandighede sal aard. Hy was lief vir Pinot Noir, maar dit kan nie op grootskaal geplant word nie, want dit het ’n koeler klimaat nodig.
Hy het ook gesê mens moet Pinotage eers as goeie rooiwyn beoordeel, daarna as ’n kultivar.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.