Tien vrae aan die veelsydige Philip de Vos watdie tiende verjaardaguitgawe van Die Goorgomgaatjie deur Julia Donaldson en illustrasies deur Axel Scheffler vertaal het:
1. Wat is die beste boek wat jy al geskryf het en die naaste aan ’n outobiografie is?
TRAZOM, ook bekend as Tot siens, Tommasino, maar ek twyfel of enige ander mens so dink of in elk geval selfs van hierdie boek weet. Ek identifiseer die meeste met die karakter Thomas Linley en ook ‘n bietjie met Mozart.
2. Wat irriteer jou van kinderboeke?
Die onlangse Afrikaanse versieversamelbundel vir kinders waarin die metrum só swak is. Dis vir ’n kind se ontwikkeling en belangstelling baie belangrik dat die klem elke keer op die regte plek is.
3. Hoe hanteer jy kritiek?
Dis soos water op ’n eend se rug. ‘n Mens kan nie altyd almal tevrede stel nie.
4. Jy het nie kinders nie – vir wie lees jy jou werk voor om te hoor of dit werk?
My lewensmaat, Peter, en my buurvrou, Vicky Taljaardt, hoor alles eerste. Deur dit hardop te lees, hoor ek hoe dit op die oor val.
5. Waar kry jy die inspirasie vir jou nuwe werk?
Een woord lei tot nog ’n woord, wat lei tot nog ’n woord … Soms is die woord só belaglik, dat dit juis my verbeelding prikkel.
6. Jy is mal oor fotografie. Hoe het alles begin?
Ek is lief vir foto’s neem en een van my beste verjaarsdagpresent toe ek nog klein was, was ’n Donald Duck-kamera wat ek by my ma gekry het. Ek loop nou oral met my kamera rond. Ek het al tien solo-foto-uitstalling gehad; ’n fotoboek met die titel Milieu gepubliseer en wil graag binnekort weer uitstal.
7. Wat is die beste raad wat jy al ontvang het?
Die dag toe ek by Leon Rousseau van Human & Rousseau ingestap het met my tweede boekprobeerslag en hy gevra het: “Hoekom skryf jy nie eerder versies nie?” Ek het nie geweet ek kan versies skryf nie en sou dit dalk nooit geweet het as hy my nie gevra het nie.
8. Wat lees jy graag?
Biografieë, veral oor die mense oor wie ek navorsing doen. Ek het die afgelope vier jaar elke einde van die jaar ‘n program oor klassieke komponiste op RSG behartig. Daardie 13 weke se 50-minute-programme neem my ses maande om na te vors en saam te stel, maar ek is mal daaroor.
9. Wat is volgens jou die eienskappe van ’n goeie kinderboekkaraktertjie?
Moemin, omdat daar ’n geweldige menslikheid, moederlikheid en huislikheid aan die karakters is. Ek het die voorreg gehad om twee van Tove Jansson se Moemin-boeke te vertaal.
10. Wat is jou suksesresep om op 76 só produktief en kreatief te wees?
Dis eintlik my kreatiwiteit wat my aan die lewe hou en die feit dat my aandag gou afgetrek word en ek nuwe dinge wil aanpak.