Dit is soos wanneer jy ’n jong boompie druk en druk totdat dit uiteindelik onder jou vingers knak. Sommige boompies sal weer regkom en verder groei, maar baie van hierdie bome hou ’n litteken en groei met moeite verder.
Maretha Botes
Wanneer jy, die perfeksionis, te veel druk op jou kind plaas, het dit nare gevolge. Anri van den Berg, verhoudingsterapeut by die Vitanova-beradingsentrum in Pretoria verduidelik: “Daar is ontsettende druk op ouers om te ‘presteer’. Daar is ouers wat hul waarde as mens en as ma aan hul kinders se prestasies en vordering meet. ‘As my kind goed doen op skool, beteken dit ek as ma doen goed in my werk as ouer. Hoe beter my kind doen, hoe ’n beter mamma is ek.”
Sy waarsku: “Daar is groot fout met hierdie denkwyse. Baie kinders presteer akademiesgewys uitermatig goed op skool, maar is sielsongelukkige kinders.”
Anri sê, “Ek dink die eerste vraag wat jy jouself moet afvra is, wat is my kernrol as ouer? Wat is my taak as dit by my kinders kom. Is dit om seker te maak dat hulle A’s kry vir elke vak op skool? Of lê dit dieper?
“Die tweede ding wat ouers kan doen, is om werklik stil te raak en introspeksie te doen – heg ek as ouer my waarde as mens aan my kind se prestasies? Voel ek beter oor myself as my kind goed doen en slegter oor myself as hy of sy nie so goed doen nie?”
Leer eerder jou kinders die waarde van ’n gebalanseerde lewe.
1) Leer kinders om hard te werk. Nie sodat hulle ‘n A kan kry nie, maar sodat hulle weet hulle het hul beste gedoen. Of dit ‘n C, ‘n B of ‘n A is, maak nie saak nie.
2) Leer kinders dat foute deel van menswees is. Dis nie of mens foute maak of nie, wat jou ‘n suksesvolle of onsuksesvolle persoon maak nie – dis hoe ons daardie foute hanteer wat saak maak. Foute is deel van menswees – wat kan jy uit jou foute leer, hoe kan jy die lesse in die toekoms toepas. Geen mens is 100% van die tyd 100% “op die ball” nie!
3) Leer kinders dat dit belangrik is om te speel en pret te hê – maak nie saak hoe oud jy is nie! Om te kan afskakel van die gejaagdheid, om te kan asemskep en goedjies te doen wat jou siel voed, is regtig belangrik. Ons kinders moet kinders wees … en so lank as moontlik kind bly.
4) Leer kinders die waarde van vriendskappe en verhoudinge. Ek glo ons as mense is geskape om in verhouding te staan, met God eerstens, maar ook met mekaar. As ons goeie verhoudinge in ons lewens kan vestig, kan ons makliker staande bly as die lewe sy houe uitdeel, maar ons kan ook in mekaar se vreugdes en geluk deel.
5) Leer kinders dat woorde en selfspraak krag het. Kies jou woorde en jou terugvoering as ouer baie noukeurig. Wees ook baie bewus van hoe jy as ouer met jouself praat! Die boodskap moet hard en duidelik deurkom dat jou kind aanvaar word en dat jy lief is vir hom of haar en dat geen punt op ‘n rapport dit ooit sal kan verander nie. Sy of haar waarde lê nie in die punte op die rapport nie. Met dit ingedagte, fokus ? bietjie daarop om jou kind se menswees te komplimenteer – wie hy of sy is, nie wat hy of sy regkry nie.
6) Hierdie laaste punt van fokus op wie jou kind is, het net soveel waarde vir jou as ouer. Sien jy werklik jou kind raak vir wie hy of sy is?