Die Paul Cluver landgoed in Elgin het onlangs die afsluiting van die 2017-oes met ’n oesdag gevier
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Gaste kon per trein uit Kaapstad oor Sir Lowry’s-pas reis en by Patryslaagte-stasie afklim, waar trekkers en waens hulle ingewag het.
By die feestelike bos-amfiteater gekom, was daar reeds gaste wat per fiets of motor arriveer het en ’n lekker feestelike atmosfeer het geheers.
Daar was kosstalletjies, wynproe-geleenthede, ’n verskeidenheid aktiwiteite vir die kinders en grootmense en natuurlik ook net die kans om in die bloekombos met vriende en familie te ontspan. Gelukkige trekkings, lewendige musiek en ’n feestelike atmosfeer was die ideale manier om ’n Saterdag op die platteland te verwyl. Die hele Cluver-gesin het saamgekuier en ’n paar van die familielede het saam treingery.
Die wynplaas is deel van ’n groter holistiese besigheid, genaamd De Rust Landgoed, wat behalwe die wingerde, wynkelder en proelokaal, ook appel- en peerboorde, ’n Hereford-stoet en verskeie eko-toerisme aktiwiteite soos bergfietsroetes en konserte in die bos amfiteater aanbied. Die landgoed is deel van die UNESCO Wêrelderfenisgebied – die Kogelberg Biosfeer. Die helfte van die landgoed is vir bewaring opsygesit.