Ons kyk na sewe soorte persoonlikhede en die beroepe wat goed daarby inskakel
Ek haat admin en my lessenaar lyk gewoonlik asof daar ‘n windstorm deur is. Een van my beste vriendinne is een van die georganiseerdste mense wat ek ken. Ek verwonder my aan die ywer waarmee sy liasseer en sy floreer in ‘n korporatiewe omgewing met streng reëls en regulasies.
Ek dink my siel sal daar stukkie vir stukkie sterf en korporatiewe jargon maak my erg benoud. Sekerlik moet jou persoonlikheid dan jou werkskeuse beïnvloed?
Dawn Dugan is die medeskrywer van Effective Executive Compensation en het die volgende sewe persoonlikhede op hul webtuiste geïdentifiseer. Kyk of jy saam met haar stem en jouself kan eien.
1. Die leier
Jy het hope selfvertroue, kan vinnig besluite maak en het uitstekende kommunikasievaardighede. Jy hou daarvan om te organiseer en beander dinge op ‘n ordelike en gestruktureerde manier. Mense kyk op na jou en gesels graag met jou oor hul probleme. Jy hou nie daarvan om ander te volg nie.
Beste beroepe:
Entrepreneur, bestuurder, uitvoerende hoof, dosent, lewens- of sakegids, konsultant
2. Die kunstenaar
Jy is onkonvensioneel en hou niks van reëls en skedules nie. Jy is baie kreatief en vermy roetinetake. Jy hou daarvan om onafhanklik te wees en geniet dit om te skep, maar verpes enigiets wat soos administrasie lyk.
Beste beroepe:
Uitlegkunstenaar, binnenshuise ontwerper, skrywer, joernalis, taalpraktisyn, produkontwerper, bemarker, advertensieverkoper
3. ‘n Doener
Jy is oplettend, aksie-georiënteerd en hou van ‘n werksplek waar dinge gebeur. Jy geniet dit om vinnig oplossings vir probleme te vind. Jy werk goed met ander mense en word as prettig gesien. Jy geniet dit om projekte te inisieer, maar het hulp nodig om projekte deur te voer.
Beste beroepe:
Finansiële beplanner, eiendomsagent, geneesheer, verkoopsverteenwoordiger, polisiebeampte, rekenaartegnikus, bemarkingspesialis of entrepreneur
4. Die denker
Kennis is vir jou belangrik en jy hou daarvan om idees en teorieë te analiseer. Jy geniet dit om op jou eie te werk en dink nie regtig aan jouself as ‘n leier of volgeling nie. Jy het baie hoë standaarde en vertrou jouself meer as wat jy ander vertrou. Kreatiewe denke met logiese beredeneringsvaardighede is vir jou belangrik.
Beste beroepe:
Ingenieur, rekenaarprogrammeerder, analis, wetenskaplike, tegniese skrywer, navorser
5. Die meganiese brein
Jy verkies dit om iets prakties te doen en is op resultate gefokus. Jy hou daarvan om met feite te werk en is geïnteresseerd om uit te vind hoe dinge werk en om probleme op te los.
Beste beroepe:
Ingenieur, werktuigkundige, rekenaarspesialis, vlieënier, forensiese patoloog
6. Die strateeg
Jy geniet dit om met komplekse materiaal en teorieë te werk en floreer op uitdagings, veral dié wat met toekomsplanne gemoeid is. Jy is rasioneel, logies en analities en gee aandag aan besonderhede. Jy funksioneer goed in stresvolle omgewings en is ‘n uitstekende leier.
Beste beroepe:
Geneesheer, onderwyser, wetenskaplike, korporatiewe strateeg, prokureur, regter
7. Die versorger
Jy is in voeling met ander mense se gevoelens en behoeftes. Jy is prakties en hou daarvan om met realistiese oplossings vir probleme vorendag te kom. Jy is verantwoordelik, betroubaar, diensgeoriënteerd en plaas dikwels ander mense se behoeftes bo jou eie.
Beste beroepe:
Verpleegster, maatskaplike werker, kantoorbestuurder, ontwerper, kindersorgwerker
BRON: www.salary.com