Dis nie aldag dat jou uitnodiging vra dat jy asseblief in jou vissieplakkies en kortbroek opdaag nie!
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die jaarlikse Chenin Party by The Grand on the Beach Cafe langs die V&A Waterfront in Kaapstad, wat die dag voor Cape Wine 2018 gehou is, is nie sommer enige partytjie nie.
Daar was seesand en strandballe, branderplanke, t-hempies en strandspeletjies, selfs ’n koning Neptunus.
Die eerste SASA Olimpiese Spele is deur die Sommelier Assosiasie van Suid-Afrika gehou en hier moes wynmakers en wynskrywers verskeie vrae oor Chenin blanc antwoord, ook wyne proe en ’n Ken Forrester Sparklehorse vonkel Chenin-bottel se prop met ’n swaard afkap – en dit boonop deur ’n hoepel laat skiet. Pieter du Toit van Cederberg Wyne, aka Koning Neptunus, was die beoordelaar en kon meeste van die tyd nie sy lag hou vir die deelnemers se eskapades nie.
Ken Forrester, voorsitter van die SA Chenin Blanc Assosiasie het almal verwelkom en uitgenooi om van die meer as 60 produsente se wen-wyne te proe. Hy het vertel dat plaaslike verkope en uitvoere van Chenin blanc-wyne aan die toeneem is. Chenin is besig om volwassenheid te bereik. Dis nie meer ’n niche-variëteit geliefd net in die binnekringe van die wynbedryf nie, maar dit is besig om ’n breë gevolg op te bou. Suid-Afrika het meer Chenin blanc-wingerde as enige ander land ter wêreld.
Ken het gesê die veelsydigheid van Chenin, die verskeidenheid wynstyle waartoe dit homself leen en die feit dat dit so ’n uitstekende kosmaat is, is van die redes vir die variëteit se toenemende aanhang. Die plaaslike tendens is in lyn met die groeiende internasionale belangstelling in die druifsoort, wat al meer oorsee gesien word as Suid-Afrika se visitekaartjie.
Elke gas het ’n pragtige Chenin blanc t-hemp ontvang om die heuglike dag op die strand te onthou. Terwyl die musiek gespeel, die wyn gevloei en die peuselhappies bedien is, het Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc Assosiasie aan almal t-hempies uitgedeel en verseker dat die dag seepglad verloop.