Dis ’n siekte wat nie lewensbedreigend is nie, maar dis beslis lewensveranderend
CHRISTA SWANEPOEL
“Ek gaan vertel van my oë wat lui geword het; my spiere wat styf en seer is; van my selfwaarde wat ’n hewige knou weg het, want ek voel soos ’n analfabeet wat my eie skrif vir hiërogliewe aansien en gedurig ander moet vra om my skryfwerk te doen, of om maar vir my voor te lees, want ek lees nie meer met begrip nie.
“Eet het ’n mynveld geword. Soms wil jou keel nie sluk nie of word jou kos skielik ’n droë bal wat nie wil op of af nie. Die tekort aan dopamien kan jou smaakkliere aantas en dan is lekker nie meer lekker nie en smaak alles na niks. “Afstand hang nie meer af van die hoeveelheid asem wat jy het nie, maar net van jou wilskrag om spoed op te bou om net jou loop te kan loop.
Daar kom ’n tyd dat jou oë en hande en verstand nie meer wil koördineer nie en jy moet jou bestuurslisensie wegpak, want jy het ’n gevaar op die pad geword. “Alles wat altyd so vanselfsprekend was, het nou ’n verlange, ’n uitdaging of ’n verleentheid geword.” Só het Emile de Villiers sy belewing van parkinsonsiekte in sy boek Die bewesiekte beskryf.
Meer oor die siekte
Parkinson se siekte of parkinsonsiekte is ’n progressiewe neurologiese toestand. Dit word hoofsaaklik gekenmerk deur probleme met liggaamsbewegings, bekend as motoriese simptome, waarvan die kenmerkendste die bewing is. Die lyer ervaar egter ook ander probleme soos pyn, slaapversteurings en depressie, wat as nie-motoriese simptome bekend staan. Volgens die Global Declaration for Parkinson’s Disease het 6,3 miljoen mense wêreldwyd dié siekte en raak dit alle rasse en kulture. Dit begin gewoonlik ná die ouderdom van 60, maar na raming word een uit tien lyers voor 50 gediagnoseer, met ’n rapsie meer mans as vroue.
Wat is die oorsaak?
Ons bewegings word deur senuselle in die brein beheer. Om ’n beweging aan die gang te sit, stuur die selle die boodskap van die een na die ander en na die res van die liggaam deur neurotransmittors. In gesonde mense word hierdie boodskappe glad en vinnig oorgedra, maar in mense met parkinsonsiekte word die boodskappe versteur en nie egalig na die spiere gestuur nie. Dis wanneer die lyer nie die bewegings kan beheer nie. Die boodskappe word nie deeglik oorgedra nie weens die gebrek aan dopamien – een van die neurotransmittors wat by die beheer van beweging betrokke is. By lyers is 70–80% van die selle wat dopamien vervaardig, gedegenereer. Dit gebeur hoofsaaklik in ’n klein deeltjie van die brein wat die substatia nigra genoem word. As daar nie genoegsame dopamien is nie, kan die selle nie die breinboodskappe oordra nie en ontstaan die parkinson-simptome. Dis ook nie net dopamien wat betrokke is nie. Ander neurotransmittors is ook betrokke, daarom help dit nie vir lyers om net die dopamien aan te vul nie. Dis ook die rede hoekom daar soveel ander nie-motoriese simptome by parkinsonlyers voorkom. Waarom die selle wat dopamien vervaardig, agteruitgaan, is nie seker nie. Navorsing word voortdurend gedoen, maar dinge soos ouderdom, genetiese faktore, omgewingsfaktore en virusse is al as die oorsaak genoem. Dis ook nie seker hoekom sekere mense die siekte ontwikkel en ander nie.
Parkinsonsiekte is genoem na James Parkinson (1755–1824), ’n Londense dokter wat die simptome in 1817 beskryf het. Dit is aan hom te danke dat dit onder die aandag van die mediese professie gekom het.
Simptome
Parkinsonsiekte se simptome kan soos volg ingedeel word:
- Motories – dit sluit beweging in, soos bewing, vries en styfheid.
- Nie-motories – dit hou nie met beweging verband nie en sluit moegheid, depressie, slaapversteurings en sweet in.
- Primêr – dit is die merkbaarste simptome wat bewing, styfheid en rigiditeit en stadige bewegings (bradykinesia) insluit. Omdat balans en postuur ook geraak word namate parkinsonsiekte vorder, word postuurwanbalans as die vierde primêre simptoom genoem.
- Sekondêr – die minder opmerklike simptome, al het dit steeds ’n impak op die lewensgehalte en kan motoriese en nie-motoriese simptome insluit. Simptome gebeur geleidelik, gewoonlik eers aan die een kant van die lyf, maar albei kante sal uiteindelik geraak word namate die siekte vorder. Elke lyer ervaar verskillende simptome wat felheid en die vordering van die siekte betref. Die lyer kan van dag tot dag die simptome verskillend ervaar en kan soms goeie dae beleef.
Wanneer is mediese ingryping nodig?
As jy agterkom jy bewe of ruk al ’n lang tyd, sê vir jou dokter as jy weer ’n afspraak het. As die bewing egter jou daaglikse aktiwiteite affekteer, kan jy vroeër dokter toe gaan. Noem die volgende aan jou dokter:
- Het die bewing skielik of geleidelik begin?
- Wat maak dit erger of beter?
- Watter dele van die liggaam word geraak?
- Het jy onlangs nuwe medikasie begin gebruik?
Die dokter sal op die volgende let om sy diagnose te doen:
- Hy sal kyk of jou gesigsuitdrukking geanimeerd is.
- Jou arms sal skud hetsy jy dit uitstrek of dit op jou skoot rus.
- Is jou ledemate of nek styf?
- Kan jy maklik uit jou stoel uit opstaan?
- Loop jy normaal met kort treetjies of swaai jou arms simmetries?
- Hy sal jou terugtrek en kyk hoe gou jy jou balans kan terugkry.
As jy reeds met parkinsonsiekte gediagnoseer is, kontak jou dokter as daar opmerklike veranderinge in jou simptome is, soos:
- Erge episodes wat jy vries (nie kan beweeg nie) en jy sukkel om te loop.
- As jy skielik anders op medikasie reageer.
- As jy ander simptome soos hardlywigheid, seksuele probleme of inkontinensie ontwikkel.
- As jy depressiesimptome ervaar, soos hartseer, ’n hopelose gevoel en gebrek aan belangstelling in daaglikse aktiwiteite.
- As jou familie agterkom jy het probleme met jou geheue of denkproses.
Daar is nie genesing vir parkinsonsiekte nie, maar as die lyer se simptome geïdentifiseer en die beste behandelingmetode bepaal is, kan die meeste mense met dié siekte ’n vervulde lewe lei
Behandeling
Die meeste lyers kan met medikasie behandel word. Sou dit nie werk nie, kan chirurgie oorweeg word, wat diepbreinstimulasie insluit. Daar word ook al operasies gedoen waar fetale dopamienneurone in die lyer se brein oorgeplant word. Wat alternatiewe terapieë betref, word vitamien E gebruik om die siekte te stuit en selfs te keer, hoewel dié aanspraak deur wetenskaplikes bevraagteken word. Ontspanningstegnieke kan simptome vertraag en herstel ná operasies bespoedig.
Besoek www.parkinsons.co.za vir meer inligting of kontak Karin Willemse by 011 787 8792 of 084 650 6500, wat jou vrae kan beantwoord en jou kan help om by ’n ondersteuningsgroep aan te sluit Bykomende bronne: WebMD, Die bewesiekte deur Emile de Villiers