Paarl Toerisme het onlangs ’n paar kosliefhebbers genooi om Erfenismaand en Toerismemaand met Paarl se koffie-kultuur te vier
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Dié dorp se ellelange hoofstraat is met koffiewinkeltjies oortrek en Carike Odendaal Heydenrych van Paarl Toerisme vertel dat koffie-drink regtig ’n integrale deel van die kultuur daar is. “Ma’s en dogters kom drink ná skool saam met ’n paar vriendinne koffie; sakemanne beklink groot transaksies oor ’n koppie boeretroos en Woensdagmiddae as die koshuiskinders dorp toe gaan, is daar nie plek vir ’n muis in ’n koffiewinkel nie.”
Die vier koffiewinkels wat besoek is, is almal in historiese ou Paarl-geboue geleë en deel van die dorp se argitektoniese erfenis. Elkeen bied iets uniek aan die besoeker, van tuisgeroosterde koffiebone, ’n bloemiste, tot vars roosterkoeke en bestanddele uit die Karoo, ontwerpersgeskenke en ’n verskeidenheid yskoffies.
Die oggend is vroeg afgeskop met ’n romerige cappuccino by Bean in Love, wat hul eie koffiebone rooster. Werner Pauw het vertel dat sy pa hom aan koffieroostery voorgestel het en hy in 2007 besluit het om die handelswêreld vir die koffiewêreld te verruil. “Ek het drie weke by ’n koffierooster gewerk, alles geleer en gevra en besef dat koffierooster soos wynmaak is – jy kies jou gunstelingstyl. Ek het ’n rooster ingevoer en met R50 000 se groen bone begin. Ek het natuurlik geen kliënte gehad nie en maar begin om voorbeeld-sakkies by koffiewinkels en kantore af te gee.
“Een pakkie het by Kikka beland, waar my (nou) vrou, Liesl gewerk het. Ek het in ’n baie klein geboutjie gewerk en voor ek my oë kon uitvee, het die besigheid só gegroei, dat ek baie dankbaar was toe die ou Baptiste Kerk wat meer as 100 jaar oud is, in my skoot geval het.“Mense het begin inloer vir ’n koffie en gou gevra of daar ontbyt is. Ek moes toe ’n hele nuwe kombuis bou en ook ’n houtdek buite aangebring. Die gebou is eers in 2016 en toe weer in 2017 gedeeltelik in ’n brand verwoes en omdat dit ’n erfenisgebou is, het die herstelwerk binne die regulasies, lank geneem.” Werner rooster sowat 1,2 ton koffiebone per maand.
Die volgende stopplek is Kikka Main, die hoofkoffiewinkel in dié groepie, wat deur Abe en Karike Conradie besit word. Daar is ook Kikka Laborie en Kikka Boulevard, wat in ’n ou tronk geleë is. Kikka is Karike se bynaam. Abe se bynaam is Noop, die naam wat hul fynproewersrestaurant verder af in die straat, later geheet het. By Kikka Main bak Anita Muller al die koeke, nadat haar suster, Sonja Jacobs, voorheen die gebak waargeneem het. Al die sjefs het by Abe geleer en meeste het saam met hom by Zomerlust Gastehuis gewerk voor hy en Karike Kikka geopen het. Die ou gebou waarin Kikka gehuisves word, dateer uit 1820 en was voorheen ’n kleremakerswinkel, daarom is die vensterbanke hoog opgebou, sodat die mannekyne klere daar kon vertoon.
Twee sussies, Nicolene Diederichs en Madelein Neethling, het in 2016 die oulike restaurant, Knus, geopen. Hul fokus is die Karoo en nie net kom meeste van hul resepte en bestanddele van Merwewille nie, die restaurant se dekor is ook so ingerig. Knus spesialiseer in roosterkoeke en hul koffie laat mense van heinde en verre ry. Hul burgers se vleis is geregistreerde Karoolam, hul koeksisters kom van Merwewille en heelwat van hul kelners praat ook met ’n lekker Karoo-aksent. Ook hul besigheid floreer uit ’n historiese Paarl gebou, wat jare gelede ’n plaasbestuurder se huis en toe ’n proelokaal vir ’n wynplaas was, voor dit omskep is.
Die laaste stop van die dag behels ook koffie-kultuur, maar met ’n effense ander kinkel. Yvette Frater van Mountain & Moon Bistro Wine Bar in die historiese Frater Square-gebou, het pas teruggekeer van Vietnam af, waar yskoffie en langgebroude koffie baie gewild is. Koffie is ook ’n integrale deel van hul kultuur.Mense wil tyd met hul gunstelingkoffie deurbring en die “phen”, die Vietnamese weergawe van ’n Franse koffiepars, laat jou agt minute wag vir jou koffie om deur te syfer.
Die gebou waarin haar bistro is, het 13 ander huurders en bied van dekor tot haarkappery en kantore aan. Sy eksperimenteer nou met verskillende soorte yskoffies, en net soos in Vietnam waar daar nie vars melk beskikbaar is nie, gebruik sy ook in sommige kondensmelk en ysblokkies. Sy bedien haselneutyskoffie, ’n geysde cappuccino en ’n tradisionele yskoffie. “Ons moet dinge stadiger benader. Die nuwe neiging is stadig; met oordenking. Die koffie word as’t ware die ervaring.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.