Die Paarl in die Drakenstein in die Boland is die ideale kuierplek vir die winter met lekkerbek-plekke, goeie wyne en pragtige natuurskoon
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die plaaslike wynroete en toerismeburo het ’n oulike veldtog, #ProePaarl bekendgestel, wat nou die dorp se geheimenisse met die publiek deel.
Daar is kaggels en hartlikheid, tuisgemaakte disse soos ouma gemaak het en wyne wat jou sal laat smeek vir meer.
Maar alles is nie tradisioneel nie, daar is jong wynmakers met vars idees en sjefs met nuwe inspirasie uit verre lande. Jy kan ook brandewyn en sjokolade en bier proe, of ’n kosdemonstrasie met ’n plaaslike sjef meemaak. Versny jou eie wyn of ontdek die nuanses van jenewer.
’n Groep smulpape het verlede week die geleentheid gehad om ’n paar van die deelnemende wynplase en restaurante te besoek, om ’n idee te kry van wat daar op die besoeker wag.
Vroegoggend skop ons kuier by Perdeberg Wynkelder af, wat nou al bekend is vir hul Chenin blanc. Hulle het egter ’n nuwe proe bedink: een met bier en sop en wyn. Ons proe botterskorsiesop met The Vineyard Collection Grenache Blanc 2015 en Hops & Co.pale ale; sampioensop met The Vineyard Collection Malbec 2015 en Hops & Co. pilsner en tamatiesop met Hops & Co. lager en The Dryland Collection Cabernet Sauvignon. Heerlik!
LEES OOK: NUWE BAKEN OP KULINÊRE LANDSKAP
Ons skuif daarna aan na Bertus Basson Restaurant @ Spice Route vir ’n geleentheid om iets van hul uitgebreide spyskaart te proe. Ek maak ’n nota in my dagboek om terug te kom met vriende vir die Sondagmaal waar almal die geregte deel – ’n familiefees soos van ouds.
Ons hoor van die nuwe Spice Route-paspoort, waar jy stempels by al die deelnemers in die sentrum kan versamel en besluit net daar dat dit ’n lekker geskenk vir vriende is. Ons gaan daarna na Mellasat Vineyards vir die Cellarmaster’s Reserve-wynproe in die pragtige ondergrondse kelder waar ons vyf wyne met vyf klein peuselhappies proe. Ons laaste stop vir die dag is die KWV Wine Emporium vir ’n gin-proe. Jy kan ook brandewyn en allerhande ander lekker dinge daar ervaar.
Paarl is beslis ’n gesinsvriendelike bestemming, waar die hele familie besig gehou kan word. Deelnemers sluit onder meer die Barley & Biltong Emporium, Bertus Basson Restaurant @ Spice Route, Blacksmith’s Kitchen, De Villiers Chocolate, Eat @Simonsvlei, Grande Roche Hotel, House of Fire at KWV Wine Emporium, Kikka, Laborie, Knus, Karoo Kombuis, Landskroon, Le Bonheur krokodilplaaas, Mellasat Vinyeards, Pearl Mountains Wines, Perdeberg Wynkelder, Rhebokskloof Restaurant, The Red Table at Nederburg, Volksmond Koffie & Kuriowinkel, Windmeul Kelder en Winelands Vitamins in.
Loer by www.paarlonline.com vir die volledige lys deelnemers aan die #ProePaarl veldtog of bel Paarl Toerisme by 021 872 4842.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.